Die VF Plus in die Madibeng-plaaslike munisipaliteit (Brits, Hartbeespoort, Mooinooi) het verlede week die loodsing van ‘n padherstelprojek deur burgerlike organisasies (AfriForum en Solidariteit Helpende Hand), sakelui, boere en gemeenskapslede in die Brits-omgewing gelei.
Die paaie en strate in die omgewing is in ‘n haglike toestand en op sommige plekke bykans onbegaanbaar. Groot skade word aan voertuie aangerig en dit veroorsaak selfs noodlottige ongelukke.
Die negatiewe impak hiervan op die plaaslike ekonomie en in besonder die landbou-ekonomie, is enorm.
Met die loodsing van die herstelprojek is ‘n gedeelte van 4,5km van die R511–Bethaniepad herstel nadat die VF Plus ingetree het en toestemming daarvoor van die provinsiale regering verkry het.
Hierdie projek is genoodsaak weens die feit dat die provinsiale departement van openbare werke oor jare nie die paaie behoorlik in stand gehou het nie, ten spyte van herhaalde beloftes. So is vier paaie reeds in Februarie 2020 op versoek van die VF Plus deur die departement vir dringende herstel geprioritiseer, maar daar is tot op hede niks gedoen nie.
In volgende fases van die projek sal onder meer die paaie en strate rondom skole in die dorp en omgewing aangepak word. Die gemeenskappe van Barnardsvlei en Losperfontein het ook reeds die VF Plus genader vir bystand en die herstel van paaie in dié gebiede is reeds in ‘n beplanningsfase.
Dit is ‘n skande en ‘n ernstige aanklag teen die ANC-regering dat getroue belastingbetalers teen groot koste self moet intree om te keer dat padinfrastruktuur in hierdie belangrike ekonomiese spilpunt in die Noordwes in duie stort.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op alle vlakke van regering toe te pas om infrastruktuur te onderhou, maar sal ook voortgaan om aktief enige inisiatiewe deur gemeenskappe en burgerlike organisasies te steun om verdere verval onder die ANC-regering te stuit.
Navrae: 064 664 2060