Kinderhuise in Gauteng wat staatmaak op finansiële ondersteuning in die vorm van provinsiale toelaes om hul deure oop te hou en om daagliks na hawelose kinders om te sien, was die afgelope maand in die donker na die vertraging in die uitbetaling van toelaes deur die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling vir die 2018/19-finansiële jaar.
Die kinderhuise kon nie hul water- en ligterekeninge betaal nie, wat veroorsaak het dat verskeie munisipaliteite die betrokke dienste na die kinderhuise gestaak het. Die instansies kon ook nie enige kos aankoop nie en menigte kinders het hongerte in die gesig gestaar.
Salarisse aan werknemers was ook in die gedrang. Van hierdie instansies het hul gewend na die VF Plus vir hulp om die toelaes uitbetaal te kry.
Die VF Plus se LPW in Gauteng, Philip van Staden, het op 25 Mei 2018 direk geskakel met die kantoor van die LUR van maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, Mayathula-Khoza, en die departement het dadelik opgetree om die probleem by te lê.
"Die departement het onmiddellik alle kinderhuise in Gauteng geskakel om hul kontrakte vir 2018/19 te onderteken sodat uitbetalings kon geskied," sê Van Staden.
Aanvanklik sou alle fondse op 4 Junie 2018 uitbetaal gewees het, maar dit het nie gebeur nie.
"Die VF Plus het toe weer die afgelope Dinsdag, tydens 'n sitting van die Gautengse wetgewer, direk in gesprek getree met die LUR oor die probleme met die uitbetaling van die fondse. Die LUR het aangedui dat sy hard werk om die probleme op te los en die VF Plus verseker dat uitbetalings spoedig sal plaasvind.
"Die VF Plus is Vrydag ingelig dat uitbetalings plaasgevind het en van die kinderhuise het ook die VF Plus in kennis gestel dat bewyse van uitbetalings deur die departement wel aan hulle gelewer is en dat die fondse reeds in die onderskeie rekeninge reflekteer.
"Die probleme met die uitbetalings was onder meer dat kontrakte nie onderteken was nie en dat kontrakte wat wel onderteken was, nog dokumentasie benodig het. Verskeie van hierdie organisasies het ook probleme met oudits gehad.
"Wat kommerwekkend is, is dat die departement van maatskaplike ontwikkeling nie met die kinderhuise gekommunikeer het om die probleme op te los nie. Eers nadat die VF Plus die LUR se kantoor gekontak het, is daar met kinderhuise gekommunikeer.
"Die VF Plus spreek die hoop uit dat die LUR se kantoor en die departement in die toekoms beter met kinderhuise in Gauteng sal kommunikeer om sodoende probleme rondom die uitbetaling van fondse gouer op te los en dat kinderhuise nie met die vrees gelaat sal word om hul deure te sluit nie," sê van Staden.