"Uit parlementêre vrae en antwoorde wat die VF Plus sedert einde verlede jaar aan die minister van justisie en korrektiewe dienste (Ronald Lamola) gevra het oor administratiewe probleme in die meesterskantoor van die hooggeregshof in Pretoria, blyk dit dat die probleem veel groter en wyer is as wat die minister bereid is om te erken," sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en woordvoerder.
"Menige persone sukkel tans met boedels van familielede wat reeds langer as vyf jaar neem om afgehandel te word. Daar is ongetwyfeld ‘n groot krisis in meesterskantore landwyd en die antwoorde van die minister bevestig dit.
"Die minister sê onder meer daar is in Januarie vanjaar agtergekom dat 45 000 lêers “vermis” geraak het weens ‘n storm wat die dak van die vorige diensverskaffer waar lêers geberg is, beskadig het."
"Uit die minister se antwoorde blyk dit ook dat hy òf verkeerd ingelig is deur amptenare, òf dat hy antwoorde oor die aangeleentheid verskaf wat daarop gemik is om ‘n diepliggende krisis in talle meesterskantore landwyd te verdoesel.
"In November verlede jaar het die VF Plus onder meer gevra wat die rede is vir die agterstand met dokumente in die meesterskantoor in Pretoria, veral vir die doeleindes van boedelbereddering, wat aan die probleem gedoen word en of daar ook probleme by ander meesterskantore ervaar word.
"Die antwoord in Desember 2018 was dat probleme hoofsaaklik ontstaan het tydens ‘n verandering van diensverskaffers wat die berging van die dokumente behartig, dat die probleem binne enkele maande opgelos sou wees en dat daar nie wesenlike probleme elders is wat “spesiale ingryping” regverdig nie.
"Die Fidusiêre Instituut van Suid-Afrika stem nie saam dat daar nie probleme elders is nie. In ‘n berig in TimesLIVE gedateer 12 September 2019, sê ‘n woordvoerder van die instituut die meesterskantore landwyd is in ‘n haglike toestand en dit sou selfs ‘n “wonderwerk” wees indien net drie van die vyftien kantore landwyd normaalweg funksioneer.
"Die woordvoerder van die Instituut skryf die probleme toe aan ‘n tekort aan personeel, asook aan onbevoegdheid, veral met nuwe aanstellings.
"In antwoord op ‘n opvolgvraag verlede maand aan die minister, blyk dit dat die situasie inderdaad veel meer ernstig is as wat geblyk het uit sy aanvanklike antwoord. Hy voer weer aan – soos verlede jaar – dat die probleem binne enkele maande opgelos behoort te wees.
"Die VF Plus is nie tevrede met die minister se antwoorde nie en het verdere vrae aan hom gerig om klarigheid oor teenstrydighede te kry rakende onder meer die vermiste lêers. Die minister word ook gevra om oop kaarte te speel oor die ware omvang van probleme van meesterskantore elders in die land."
"Dit is duidelik dat die probleme ‘n landwye krisis is en ‘n tipiese maaksel van die ANC-regering wat bereid is om kundigheid en effektiwiteit op te offer ter wille van regstellende aksie," sê Wessels.