"Vandag, 17 Maart 2020, is die 200ste herdenking van die aankoms van die eerste van sowat 4 000 Britse Setlaars in Suid-Afrika, en die VF Plus gee erkenning aan die rol wat hulle gespeel het in die ontwikkeling van die land," sê Corné Mulder, VF Plus-LP en hoofsweep.
"Die Britse regering het in 1819 meer as 90 000 aansoeke van Britse burgers ontvang wat na Suid-Afrika wou verhuis. Op 17 Maart 1820 het die Nautilus en die Chapman Tafelbaai binnegevaar met die eerste van sestig groepe Setlaars wat eindelik opgedaag het. Vanaf Tafelbaai is hulle na Algoabaai wat hulle op 10 April 1820 bereik het.
"Die Setlaars is oorspronklik as boere naby die dorp Bathurst in die Oos-Kaap gevestig. Baie van hulle het geen landboukundige agtergrond gehad nie en is uiteindelik na dorpe soos Port Elizabeth, Oos-Londen en Grahamstad waar hulle gewerk het as smede, kleremakers en in ander ambagte wat in Engeland aangeleer is.
"Dit het bygedra tot die ontwikkeling en ekonomiese vooruitgang van die dorpe."
"Dit is ook belangrik om te onthou dat die Britse Setlaars verantwoordelik was vir die stigting van 'n vrye pers in 1825, soortgelyk aan wat hulle in Engeland gehad het, deur die Kaapse regering onder druk te plaas om dit toe te laat.
"Die Britse setlaars word in Grahamstad herdenk deur die 1820-Setlaarsmonument wat in 1974 geopen is. Dit is 'n lewende monument en dit bied toneelstukke, musiekuitvoerings en kulturele geleenthede aan en word gerugsteun deur die 1820 Setlaarsvereniging wat in 1920 gestig is deur Walter Stanford en ander nasate van die Setlaars.
"Vandag is die nasate van hierdie pioniers 'n belangrike minderheid in Suid-Afrika. Hulle het 'n wesenlike rol gespeel in die ontwikkeling van Suid-Afrika en die Vryheidsfront Plus eer vandag hul nalatenskap," sê Mulder.