Die VF Plus het ‘n skrywe gerig aan die premier van die Vrystaat, me. Sisi Ntombela, waarin aangedring word op dringende ingryping in die voortslepende waterkrisis in Parys.
Parys vorm deel van die Ngwathe-plaaslike munisipaliteit in die Vrystaat.
Dié krisis het daartoe gelei dat klinieke, hospitale en skole in die gebied reeds vir drie weke aaneenlopend sonder water is.
In reaksie op die VF Plus se skrywe het die premier bevestig dat die nasionale departement van water en sanitasie genader word om hulp te verleen ten opsigte van die waterkrisis.
Sy het onderneem om te versoek dat watertenk-waens in Parys, Skonkenville en Thumahole beskikbaar gestel word en die weermag ook genader word om hulp te verleen.
Gewelddadige betogings het vandeesweek uitgebreek weens die voortslepende water- en diensleweringskrisis in die munisipaliteit.
Verskeie paaie is versper, brande is gestig en die plaaslike ekonomie en huishoudings het skade gely.
Die VF Plus versoek al vir jare dat die water- en kraginfrastruktuur van die Ngwathe-munisipaliteit dringend opgegradeer en in stand gehou word. Dit het tot ‘n jammerlike toestand verval.
Kragonderbrekings weens beurtkrag word vererger omdat vervalle infrastruktuur dikwels met die gereelde aan- en afskakel van elektrisiteit onklaar raak.
Dit lei tot watertekorte omdat die reservoirs nie voldoende volgepomp kan word nie.
‘n Gebrek aan behoorlike bestuur en die nodige politieke wil om infrastruktuur-opgradering en -instandhouding te prioritiseer, is direk verantwoordelik hiervoor.
'n Humanitêre krisis het nou ontstaan weens dié onderbrekings wat growwe menseregteskendings veroorsaak.
Hoewel die premier nou bevestig het dat daar wel ‘n mate van ingryping op nasionale vlak plaasvind, sal die VF Plus aanhou om aan te dring op ‘n daadwerklike ingrypingsplan.
Hierdie plan moet nie net reaktiewe optrede behels nie, maar moet langtermynoplossings daarstel, dit ontwikkel en uitvoer.
Die inwoners van Parys en Ngwathe verdien beter as die ANC.