Die VF Plus dring daarop aan dat die Tshwane-metro se departement vir elektriese dienste by al die kragmaste in die metro inspeksies doen om nog ‘n massiewe kragonderbreking, soos wat die afgelope paar dae in Pretoria ervaar is, te voorkom.
Sewe kragmaste het Sondagaand neergestort en kragkabels oor die N4 laat val.
Dit het veroorsaak dat groot dele van die ooste en noorde van Pretoria sonder krag gelaat is.
Alhoewel krag na baie woonbuurte herstel is, is daar tans nog sowat 21 wat in die donker gelaat is.
Die vermoede bestaan dat diewe die kragmaste gevandaliseer het en van die staal wou steel.
Dit, tesame met die gure weer van Sondagaand, het die kragmaste laat neerstort.
‘n Ramp soos hierdie, tesame met beurtkrag, is verwoestend vir die metro se ekonomie en vir inwoners wat groot skade gely het.
Dit mag nie weer gebeur nie.