Die VF Plus het op versoek van Solidariteit ‘n versoekskrif by die parlement ingedien waarin onder meer gesê word ‘radikale ingryping’ by die SAL is nodig en dat die parlement opdrag moet gee dat die redery sonder meer in ‘n proses van sakeredding geplaas moet word.
Luidens die versoekskrif sal so ‘n besluit ‘n sterk boodskap stuur aan diegene wat met wanbestuur en korrupsie die SAL op ‘n pad van vernietiging geplaas het.
"Die VF Plus stem saam met Solidariteit oor die diepliggende probleme by die redery en oor die oplossings wat voorgestel word. Daar is nou reeds te veel geld van belastingbetalers in ‘n aantal nuttelose reddingsaksies vermors en daar kan nie nog geld in dié bodemlose put gestort word nie," sê adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter
Die versoekskrif sal ingedien word ingevolge parlementêre reël 347(1) wat bepaal dat net ‘n parlementslid ‘n versoek van hierdie aard kan indien en die VF Plus doen dit met graagte.
"Die VF Plus sal ook ‘n debat in die parlement rakende die SAL versoek sodat die kwessie verder op die spits gedryf kan word," sê Alberts.