Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus-burgemeester vir Oudtshoorn aangewys in regering van plaaslike eenheid

Mnr. Johan Allers van die VF Plus is vandag as Oudtshoorn se nuwe burgemeester aangewys in ʼn regering van plaaslike eenheid in die plek van die omstrede mnr. Chris Macpherson van die DA.

Mnr. Allers is met 14 stemme teen 9 verkies nadat opposisiepartye hulle in ‘n geskiedkundige stap daartoe verbind het om, soos in die geval van die nasionale regering, saam te werk in ʼn plaaslike eenheidsregering.

Soos op nasionale vlak, het geen enkele party in Oudtshoorn genoeg steun om alleen te regeer nie.

Hierdie verwikkeling het gevolg op pleidooie van voormalige koalisievennote van die DA in Oudtshoorn om mnr. Macpherson weens talle klagtes en griewe te vervang.

Die DA het geweier om hieraan gehoor te gee en het besluit om eerder sy koalisieooreenkoms met die VF Plus en ander partye te verbreek as om ʼn ander kandidaat vir die pos van burgemeester aan te wys.

Die koalisie waarvan die DA, die VF Plus, Icosa en Saamstaan in Oudtshoorn deel was, is eensydig deur die DA beëindig nadat die koalisievennote alles in hul vermoë gedoen het en verkeie gesprekke met die DA gevoer het om ʼn skeuring af te weer.

Dit is jammer dat die DA se onversetlike houding tot dié punt gelei het. Die VF Plus sal nogtans alles moontlik doen om goeie samewerking tussen die nuwe regeringsvennote te bewerkstellig.

Daar is mense wat sal hoop dat die nuwe regering gaan misluk en teenstanders daarvan sal dit waarskynlik so moeilik as moontlik maak om sukses te behaal.

Daar sal sekerlik vorentoe verskille wees, maar die VF Plus doen ʼn beroep op die nuwe regering om te fokus op dienslewering en wat belangrik is vir Oudtshoorn en sy mense.

Ingevolge die samewerkingsooreenkoms tussen die partye sal werkende meganismes geskep word om deurentyd konsensus te verseker en met dispute te handel.

Die VF Plus doen opnuut ʼn beroep op die DA om die koalisies wat hy ook in George en Tuinroete-distriksmunisipaliteit met die VF Plus verbreek het, te herstel in die belang van goeie regering en dienslewering.

Wat Oudtshoorn aanbetref, hoop die VF Plus die DA sal besin en nie net ʼn opposisierol speel nie, maar sal bydra tot ʼn regering van plaaslike eenheid in die belang van ook hulle kiesers.

Die VF Plus is bereid om die leiding in Oudtshoorn te neem en sal alles in sy vermoë doen om die oorblywende koalisies in die Wes-Kaap te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.