Die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt) het eindelik ná volgehoue druk van die VF Plus begin om verouderde en stukkende infrastruktuur in verskeie dorpe te herstel.
Dit volg nadat die VF Plus vir etlike maande druk geplaas het op die burgemeester, mnr. Nhlakanipho Zuma, sowel as die munisipale bestuurder, mnr. Eliot Maseko.
Daar is nou reeds heelwat vordering gemaak met veral die verfwerk van nie-sigbare padtekens wat na jare lange blootstelling aan die elemente verbleik het. Die VF Plus het vantevore al sy kommer uitgespreek oor die swak kwaliteit van verf wat voorheen aangekoop is om die padtekens in stand te hou.
Dit is verblydend dat die munisipale bestuur ag geslaan het op die kwelpunte en versoek.
Verskeie hoofstrate se padtekens is oorgeverf en die VF Plus sal die vordering van die werk dophou .
Dit is ook verblydend dat die herstel van straatligte in Govan Mbeki (GMM) uiteindelik aandag geniet. Die munisipaliteit het bevestig dat hoofstraatligte die eerste voorkeur geniet, waarna die herstelwerk binnekort uitgebrei sal word na straatligte in die omliggende woonbuurte.
Terwyl misdaad ‘n bekommernis bly weens kabeldiefstal, vandalisme en finansiële beperkings, sal die VF Plus die munisipale bestuur aanmoedig om die projek so gou moontlik te finaliseer.
Die VF Plus het reeds in Julie sy kommer geopper oor die nie-funksionerende verkeersligte in veral Secunda, Bethal, Kinross, Leandra en Embalenhle. Die langdurige onwerkbaarheid van hierdie verkeersligte hou ‘n aansienlike ongerief en ‘n veiligheidsrisiko vir alle padgebruikers in.
Die oorsake van hierdie probleme sluit in voertuigongelukke wat verkeersligte beskadig en die diefstal van kabels, transformators en beheerders. Herstelwerk aan sommige van die verkeersligte het reeds begin.
GMM het hom daartoe verbind om beskadigde verkeersligte deurlopend te herstel. Die meeste nie-funksionele verkeersligte sal na verwagting tussen middel September en Desember 2024 herstel wees.
Die VF Plus doen ‘n beroep op die gemeenskap om enige nie-funksionele verkeerslig aan te meld vir vinnige optrede.
Die VF Plus sal voortgaan om op te tree in die beste belang van al die inwoners in die gebied.


