Voortslepende betogings in die dorpie Marite in die Bosbokrand-plaaslike munisipaliteit (Acornhoek, Bosbokrand, Cottondale, Hluvukani, Kampersrus, Marite, Mkhuhlu, Paul Kruger-hek) het 'n verwoestende uitwerking op plaaslike toerisme.
Die mense betoog oor swak dienslewering wat verband hou met gebrekkige watervoorsiening en riolering
Die R40-pad op pad na die Nasionale Krugerwildtuin en ander groot toerisme-aantreklikhede soos Sabi-Sabi, is die afgelope week sporadies deur die plaaslike gemeenskap afgesper.
Daar is selfs vragmotors tussen Marite en Bosbokrand op die R40-pad geparkeer en aan die brand gesteek.
Die provinsiale polisiewoordvoerder, kol. Donald Mdluli, het bevestig dat die inwoners soms vir weke sonder water moet klaarkom en dat die plaaslike munisipaliteit die rede vir die betogings erken het.
Marite is in 'n onbenydenswaardige posisie omdat dit ver van waterbronne is en dele van die infrastruktuur dekades oud is.
Hooflyne vir watervoorsiening kort dringende opgradering en rioolverwydering het nie die nodige aandag gekry nie.
Met die 2021/22-geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir die volgende vyf jaar, is R10 miljoen beloof om verouderde en vervalle waterinfrastruktuur te vervang, maar die projek het tot stilstand gekom weens voortdurende Eskom-beurtkrag.
In die munisipale begroting is 'n stelselmatige hersiening van die stad se infrastruktuur opgestel, maar dit is deur voortdurende brekasies vertraag.
Tans is die uitdaging nie net om dienste te verskaf nie. Dit is om swak dienste te vervang met ‘n verlaagde inkomste en 'n gemeenskap wat geduld verloor.
Die VF Plus sal voortgaan om die munisipale bestuurder, Cynthia Audrey Nkuna, verantwoordbaar te hou en sal druk toepas om ‘n keerpunt in die swak dienslewering teweeg te bring.
Die party sal seker maak dat die R10 miljoen wel aan die opgradering van waterinfrastruktuur bestee word.