"Die VF Plus is bekommerd oor toetse wat gedoen word by die nasionale gesondheidslaboratoriumdienste (NHLS) waarvan die uitslae nie duidelik is in terme van ‘n negatiewe of positiewe uitslag nie en wat daarom as onbeslis beskou word," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid.
"Alhoewel daar verskeie tegniese redes kan wees wat tot hierdie onsekerheid aanleiding gee, is dit nogtans ‘n groot vermorsing van geld aangesien die koste per toets hoog is.
"In vandag se parlementêre portefeuljekomitee-vergadering vir gesondheid het die VF Plus vasgestel dat dit R507,00 per toets beloop. Altesame 1 171 onbesliste toetse beloop dus ‘n totale koste van R593 697-00."
"Volgens verteenwoordigers van die laboratorium is provinsies nog nie verantwoordelik gehou vir die koste rondom toetse nie, maar dat dit nie volhoubaar is. Provinsies sal voortaan straks self moet betaal. Die vraag is of provinsies op die lange duur die koste sal kan dra.
"Die situasie begin reeds ontwikkel waar pasiënte toetsing gaan weier indien hulle daarvoor moet betaal, in ag genome die moontlikheid van onbesliste toetse. Ook in die private sektor kan mediese fondse voorwaardes hieroor begin stel.
"Die VF Plus is bekommerd oor die agterstand van toetse wat tans, volgens die laboratoriums, op 63244 staan. Die agterstand in die toetse het reeds veroorsaak dat mense hul bedenkinge oor die daaglikse amptelike statistiek begin toon."
"Tydens die komitee se vorige vergadering was daar verwarring oor die agterstand van die toetse nadat die departement gesê het die agterstand was 80 000 en die minister direk daarna gesê dit is 30 000. Die VF Plus sal voortgaan om die situasie te monitor," sê van Staden.