fbpx
Vryheidsfront Plus

VERKIESING 2019: DIE MITES, LEUENS EN WAARHEID OOR JOU KRUISIE

Waarom is dit van die allergrootste belang om te registreer én te stem vir vanjaar se algemene verkiesing wat volgens aanduidings reeds vroeg in Mei gaan plaasvind?

Die kernantwoord is dat dit in die belang van almal in Suid-Afrika is dat die politieke meerderheid van die ANC verklein moet word.

Die ideaal is om dit af te bring tot minder as 50% sodat ‘n koalisie van opposisiepartye ‘n nuwe regering kan vorm waarvan ‘n party soos byvoorbeeld die VF Plus deel sal wees om sy kiesers se waardes en belange in só ‘n regering in te dra en te bevorder.

Een van die grootste probleme in hierdie verband is kiesers wat apaties staan en weier om te registreer of te stem. Hulle voer baie redes aan. Een wat gereeld gehoor word, is dat hulle nie deel wil wees van ‘n proses wat ‘legitimiteit’ aan die regering verleen nie, dat ‘n wegblystem geen werklike voordeel vir die ANC inhou nie en dat dit nie sal help om vir ‘n ‘kleiner’ party te stem nie.

Al drie is totaal verkeerd. Weens Suid-Afrika se proporsionele kiesstelsel, is elke wegblystem wat teen die ANC uitgebring kon word, so goed soos ‘n direkte stem vir die ANC, en elke stem teen die ANC dra presies dieselfde gewig, ongeag vir wie jy stem. Die voorwaarde is dat jou party parlementêre verteenwoordiging moet hê in ‘n nasionale verkiesing.

Om dit te verstaan, kyk na Suid-Afrika se kiesstelsel as ‘n groot skaal. Aan die een kant is die ANC-appels (die regering) en aan die ander kant al die ander appels gesamentlik (die opposisie).

Kom ons veronderstel daar is ses ANC-appels en vier opposisie-appels. Die ANC het dus ses uit tien, of 60%. Net een van die opposisie-appels besluit om af te spring omdat hy nie wil stem nie. Skielik swaai die skaal skerp na die ANC-kant, al het hy nie ‘n enkele appel bygekry nie.

Nou het die ANC ses uit nege appels, wat ‘n persentasie-meerderheid van 66% is.

Daardie appel wat nie meer op die skaal is nie, of dan die opposisie-kiesers wat uit protes of onverskilligheid nie gaan stem nie, verhoog direk die ANC se steun. Dit is presies dieselfde as om ‘n ANC-t-hemp aan te trek en jou kruisie vir die ANC te trek op stemdag. Die gevolg is dieselfde.

Oor die argument dat jou een stem nie werklik ‘n verskil gaan maak nie, is die volgende baie belangrik: In 2014 was daar 36,67 miljoen persone bo die ouderdom van 18-jaar wat stemgeregtig was, maar slegs 25,388 miljoen het geregistreer om te stem. Sowat 31% stemgeregtigdes het nie geregistreer nie.

In die verkiesing het sowat 27% van die kiesers wat geregistreer was om te stem, nie gaan stem nie, wat beteken 58% van persone wat kon stem, het nie gestem nie. Die gevolg is dat die ANC die land regeer met slegs 31,18% van die potensiële kiesers.

Dus: Met minder as een-derde van die persone wat kon stem, regeer die ANC met ‘n 62%-meerderheid in die parlement. Die ANC regeer die land de facto dus met ‘n minderheid. Elkeen van dié nie-stemmers het waarskynlik ook gedink sy een stem gaan nie ‘n verskil maak nie.

Elke stem, elke appel op die skaal teen die ANC, is ewe belangrik om die ANC se meerderheid minder te maak, ongeag vir wie dit gaan. Dit is daarom ‘n leuen om te verkondig dat ‘n stem vir ‘n sogenaamde kleiner party gemors word. Iets wat die DA graag doen.

Sorg dat jou waardes deur jou eie party in ‘n koalisie bevestig word, hetsy as opposisie, of in regering soos tans in die Tshwane-metro.

Partye wat die teendeel verkondig, is oneerlik en bring onsekerheid by kiesers wat dan eerder wegbly van die stembus, en die gevolg is ‘n groter meerderheid vir die ANC.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.