Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Marais praat prontuit

Peter Marais is Dinsdag as die VF Plus se Wes-Kaapse premierskandidaat aangewys nadat gesprekke tussen Marais en die party reeds in 2014 gevoer is. Marais het die afgelope week prontuit belangrike kwessies aangespreek wat die VF Plus se verkiesingsveldtog in die Wes-Kaap sal bepaal.

 

Oor die persepsie dat die VF Plus regs is

 

“As jy sê regs, moet jy sê die Amerikaanse president is ook regs. As jy sê regs moet jy sê die Skotte is regs omdat hulle ’n aparte staat wil hê en ook die Palestyne omdat hulle hul eie staat wil hê. Regs in die ou terme het verwys na mense wat apartheid steun.

Daardie reëlboek is oorgeskryf. Suid-Afrika se Grondwet verbied enige beleid wat op rassediskriminasie gegrond is – of jy regs of links is – dieselfde reëls geld waarop jy jou politiek moet bedryf.

Jy kan die Afrikaner uitskel van alles, maar jy kan nie sê hulle het niks gebou nie. Yskor, Denel, skole, hospitale, technikons en universiteite is gebou deur Afrikaners wat regs genoem word.

En alles wat gebreek is, het hulle nie gebreek nie.

 

Oor die persepsie dat die skuif na die VF Plus opportunisties is

 

Dit is eerder ’n groter bewuswording dat Afrikaanses ’n groter familie as net Afrikaners is. Dit is ’n bewustheid wat sê die Afrikaner is maar een gedeelte van Afrikaans wees.

Ek verwelkom dit, want dit is waarna ek nog altyd gehunker het.

Die Xhosas en Zoeloes het baklei, maar hulle het vrede gemaak.  Hoekom sal bruin en wit mekaar nie vind nie?

 

Waarom moet Wes-Kapenaars vir die VF Plus stem?

 

Bestendigheid, goeie organisering, bekwaamheid van hul leiers. Die bruin mense het ’n verteenwoordiger in die nasionale vergadering (parlement) nodig.

Die VF Plus wil na almal se behoeftes omsien.

Dit is waarom ek sê my vertroue om die woord van die VF Plus te aanvaar, is sedert 2014 opgebou.

Dit is nie ’n shotgun-huwelik (op die ingewing van die oomblik) nie. Dit is nie ’n kwessie van dat jy nou moet trou omdat die vroutjie verwagtend is nie. Ek het nie ’n behoefte om terug te kom na die politiek vir geldelike redes nie. Ek het nie ’n geldelike probleem of ’n behoefte aan publisiteit nie. Dit is nie waarna ek op soek is nie, maar die bruin mense het nie ’n geloofwaardige stem wat sy saak op die hoogste vlakke kan stel nie.

 

Die verkiesingsveldtog en hoe mense Marais sal ontvang

 

Ek gee nie om vir die ontvangs nie ek het ’n saak om te stel. Onthou die Afrikaner en bruin mense is sedert 1994 geslaan – in die werkplek, met behuising – daar is nie huise vir ons mense gebou nie.

Selfs oud-president Nelson Mandela het nie 100%-steun gehad nie. Niemand in die politiek het nie. Pres. Donald Trump van Amerika het ook nie die meerderheidsteun nie. Mense kan my vertrou.

Ons in die VF Plus sal nie hand om die blaas met die EFF loop soos die DA nie. Ons kan nie die DA vertrou nie, hy is so magshonger hy is bereid om ’n alliansievennoot van die EFF te wees wat hom in die verkeerde rigting gaan stuur.

Ons kan die mense verseker die VF Plus sal nooit met die ANC of die EFF ’n alliansie vorm nie.

 

Die Bruin-Belange-Beweging (BBB) en Marais se VF Plus-lidmaatskap

Die BBB het geluister en gevra dat dr. Corné Mulder (VF Plus-hoofsweep en leier in die Wes-Kaap) hulle toespreek. Die BBB se uitvoerende bestuur sal ook op die party se kandidatelys geakkommodeer word.

 

Wat van aftrede?

’n Mens kan aftree, maar jy hoef nie uit te tree nie. Solank as wat ek dieselfde belasting betaal as toe ek jonk was en sien my mense ly nog net so soos toe ek jonk was . . . En so lank as wat ek sien niemand tree vir hulle in die bres nie, sal ek net soos oud-president Nelson Mandela ná 70 steeds bereid wees om ’n leierskappos te beklee. Donald Trump is 74 en hy is ’n leier.

 

Die Slaan Terug-veldtog?

Nou gaan ons verduidelik wat ons daarmee bedoel. Onthou die Afrikaner en bruin mense is sedert 1994 geslaan – in die werkplek, met behuising – daar is nie huise vir ons mense gebou nie. Die Wet op Gelyke Indiensneming het ons geslaan – ons kan nie bevordering kry nie.

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.