Die VF Plus glo dat die sterk verkeersveiligheidsveldtog wat die Mogale City-plaaslike munisipaliteit se departement van gemeenskapsveiligheid van stapel gestuur het tydens die feesseisoen, bygedra het tot die relatiewe lae padsterftesyfer in dié munisipaliteit.
In Mogale City wat Krugersdorp, Magaliesburg en Muldersdrift bedien, is tien motorongelukke aangeteken waarin elf mense oorlede is.
Dit sluit in vyf voetgangers, vier passasiers en twee voertuigbestuurders.
Die departement van gemeenskapsveiligheid het motoriste daagliks op sosiale media gewaarsku om geduldig te wees, eerder vroeër na eindbestemmings te vertrek, veiligheidsgordels te dra en by die spoedgrens te hou.
In die Johannesburgse metro is 60 noodlottige ongelukke aangeteken waarin 65 mense oorlede is. In Ekurhuleni 55 waarin 56 mense dood is, in Tshwane 44 waarin 51 dood is, Emfuleni 9 waarin 10 dood is en Midvaal 4 waarin 4 dood is.
Die departement van gemeenskapsveiligheid beplan om die veldtog voor te sit en te verskerp rondom Paasnaweek.
Verkeersbeamptes sal meer sigbaar wees en verskeie verkeersbeheerpunte sal gereël word waaraan polisie- en verkeerslede sal deelneem.