"Die VF Plus verwelkom die uitspraak van die hoogste hof van appèl ten gunste van die herstel van die regering van die Tshwane-metro. Die Gautengse premier, David Makhura, het dus by implikasie die Tshwane-metroraad onregmatig ontbind," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en provinsiale leier in Gauteng.
"Die Appélhof se uitspraak bewys dat die provinsiale ANC-regering onnodig appél aangeteken het teen die oorspronklike hooggeregshof-uitspraak wat dieselfde bevinding gemaak het. Die ANC het weereens belastingbetalersgeld gemors deur die hooggeregshofuitspraak te betwis.
"Demokrasie is nou in ere herstel en die ANC-provinsiale regering het weereens 'n welverdiende loesing in die hof ontvang weens sy siniese misbruik van statutêre magte om die demokraties-verkose koalisieregering van die stad te ondermyn.
"Die VF Plus het die ANC herhaaldelik gewaarsku dat sy regsgronde vir die ontbinding wankelrig is en dat sy politieke opportunisme ‘n desperate poging is om die mag in die metro op 'n ondemokratiese wyse oor te neem."
"Sedert die ontbinding van die metroraad het grootskaalse wanbesteding en wanadministrasie plaasgevind tot nadeel van inwoners en belastingbetalers in die metro. Die demokraties-verkose raad kan nou voortgaan om die metro op ‘n herstelpad te plaas.
"Die VF Plus het homself reeds bewys as betroubare regeervennoot en sal onverpoosd voortgaan om die belange van die belastingbetalers en inwoners van die metro te dien.
"Die VF Plus bestudeer tans die nadere besonderhede van die uitspraak en gaan in gesprek tree met ander koalisievennote om die pad vorentoe te bespreek.
"Die party sal nie huiwer om klagte vir minagting van die hof in te dien teen enige ANC- en EFF-raadslede wat in die toekoms op 'n mala fide-wyse raadsvergaderings ontwrig nie," sê Mulder.