"Die standpunt van mnr. Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, dat Suid-Afrikaanse sport méér transformasie nodig het, bewys dat die ANC-regering nie die waarde en bydrae van sport in die land verstaan nie," sê Heloïse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van sport.
"Die minister het gereageer op die jaarlikse Eminent Persons Group (EPG)-verslag oor transformasie in sport en meen dat Suid-Afrikaanse sport nie genoeg doen om transformasie te bevorder nie.
"Die VF Plus is van mening dat transformasiekwotas gegrond op ras in stede van vaardigheid afbreek doen aan samehorigheid, sosiale kohesie en nasiebou. Sportspanne moet op meriete gekies word om die beste span in ‘n bepaalde sportkode te hê, ongeag ras."
"Die departement van sport, kuns en kultuur moet eerder meer doen om sport te ontwikkel en alle gemeenskappe aan die verskillende sportkodes bloot te stel.
"Sportkondisionering moet op laerskoolvlak reeds bevorder word. Die departement maak geensins erns met die feit dat sportvaardighede reeds van ‘n vroeë ouderdom by kinders gekweek en gestimuleer moet word nie."
"Die departement erken self dat minder as 10% van Suid-Afrikaanse skole sport beoefen. Indien die departement op provinsiale en plaaslike vlak vaardigheidsontwikkeling van ‘n jong ouderdom deur skole en klubs bevorder, sal spelers die nodige vaardighede op amateur- en professionele vlak hê om op meriete vir spanne gekies te word.
"Die VF Plus neem ook met kommer kennis van Netbal Suid-Afrika se ongewone en verdagte stap om drie van die top spanne in die nasionale liga nie goed te keur nie, glo omdat hulle nie aan distriksvereistes voldoen nie. Dit is verdag dat Netbal Suid-Afrika hierdie besluit geneem het op die hakke van die EPG-verslag.
"Dit is uiters kommerwekkend dat professionele netbalspelers van drie van die land se topspanne dalk nie aan ‘n nasionale liga sal kan deelneem nie, terwyl sukses in netbal se Wêreldbeker-toernooi in 2023, in ag genome die span se onlangse prestasie, binne bereik is," sê Denner.