Die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) se trae reaksie om die Kernite-substasie in Carletonville, wat verlede Woensdag in 'n brand beskadig is, te herstel, is onaanvaarbaar.
Selfs die snerpende koue wat tans in Gauteng ondervind word, kon nie die munisipaliteit aanspoor om die vervanging van die transformator te bespoedig nie.
Die Kernite-substasie wat verlede Woensdag aan die brand geslaan het, het uitbreiding 1 in Carletonville sonder elektrisiteit gelaat. Strate wat geraak word, is Kernite, 'n gedeelte van Agnew, Flint, Hornstone, Jade en 'n gedeelte van Koalin.
Na verskeie navrae aan die munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling, het die munisipaliteit se kommunikasie-afdeling bevestig dat die aankoop van ‘n 500 KVA-transformator vandag afgehandel is en dat met herstelwerk begin sal word.
Dit is onbekend hoe lank die gedeelte nog sonder elektrisiteit sal wees.
Die VF Plus is van mening dat die Kernite-substasie prioriteit moet geniet in die lig van skerp dalende temperature. Talle mense kan nie 'n kragopwekker bekostig nie.
Die Merafong-munisipaliteit is weens wanbestuur onder finansiële druk en kan nie sy diensverskaffers betyds betaal nie. Diensverskaffers wag tot 108 dae voor betaling plaasvind.
Kiesers moet in die komende verkiesing saam met die VF Plus opstaan om te verseker dat bekwame verteenwoordigers wat die belastingbetalers van Merafong se belange op die hart dra, beheer neem in die munisipaliteit.
Navrae:082 671 2302