"Die VF Plus verwelkom die besluit van die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, om die Vrystaat, in oorleg met die provinsiale regering, tot ‘n provinsiale rampgebied te verklaar. Dit volg nadat wegholveldbrande meer as 100 000 ha se natuurlike weiding vernietig het en die landbougemeenskap op sy knieë gedwing is," sê Tammy Breedt, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van landbou.
"Die VF Plus het met die aanvang van die brande ‘n skrywe gerig aan die LUR van samewerkende regering, Thembeni Nxangisa, en versoek dat die geraakte gebied tot rampgebied verklaar word. Die VF Plus het verder versoek dat regeringshulp op provinsiale én nasionale vlak aan boere verleen word, aangesien die brande se oorsprong gespruit het uit brandstigting deur ontevrede inwoners van die Tokologo-plaaslike munisipaliteit.
"Hierdie skade is die direkte skuld van swak regering en dit is nie aanvaarbaar dat boere self óf hul versekering daarvoor moet pa staan nie."
"Alhoewel dit ‘n stap in die regte rigting is, is die VF Plus versigtig-optimisties, omdat die ANC-regering reeds keer op keer bewys het dat hy nie in die onmiddellike behoeftes van mense in rampgebiede kan voorsien nie. Vorige rampgebiede het jare na verwoestende gebeurtenisse eers verligting ontvang en dit mag nie in hierdie geval herhaal word nie.
"Die VF Plus sal die saak verder voer en daarop aandring dat regeringshulp so gou as moontlik die geraakte gebied bereik om verligting aan die boeregemeenskap te bring," sê Breedt.