"Die ekonomiese stimuluspakket wat president Ramaphosa aangekondig het, is 'n stap in die regte rigting," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Daar is sekere aspekte van die stimuluspakket waarvan die detail ontbreek en die VF Plus is van mening dat die betaling van nuut-aangewysde sosiale toelaes met omsigtigheid benader moet word aangesien mense vinnig daarvan afhanklik sal raak en dit dan moeilik weggeneem sal kan word in die toekoms.
"Dit is belangrik om nie afhanklikheid van die staat daar te stel nie, maar eerder werkskepping en sake-ontwikkeling moontlik te maak."
"Die fokus is sterk op die armes en kwesbares van die land, maar dit is belangrik om in ag te neem dat die definisie van kwesbares in Suid-Afrika verander het. Mense wat voor die inperking nie kwesbaar was nie en deel was van die middel-inkomstegroep wat toe werk verskaf het, is nou kwesbaar.
"Dit is belangrik dat die land se begroting geherprioritiseer moet word.
"Belangrike aspekte sluit in die toewysing aan die gesondheidsbegroting, verligting van honger en ander maatskaplike probleme, hulp en ondersteuning aan sake-ondernemings en die ontsluiting van die ekonomie.
"Die VF Plus stem saam met die benadering van terugfassering van die ekonomie gegrond op 'n risiko-analise van verskillende sektore. Dit is die logiese benadering om te volg na die stappe wat geneem moes word om die pandemie plaaslik te benader.
"Die party staan ook by sy standpunt dat geen hulp aan bemagtigingsvoorwaardes gekoppel mag wees nie. Gelykheid moet geld."
"Die detail oor lenings aan sake-ondernemings ontbreek grootliks en dit is nie duidelik wat die terugbetalingsooreenkoms hiervan gaan behels nie. Aspekte soos die rentekoers en of dit op ‘n uitgestelde terugbetalingsgrondslag gaan geskied, is nie bekend nie.
"Die VF Plus se siening is dat die regering eerder belastingverligting in alle sektore, soos verminderde maatskappy-belasting, persoonlike belasting en verminderde erfbelasting moes oorweeg wat dit nie nodig sou maak om mense deur direkte lenings te finansier nie.
"Die VF Plus het reeds verskeie voorstelle gemaak oor hoe die ekonomie ontsluit kan word. Die risiko-analise is een hiervan waardeur sekere bepalings opgehef kan word om dit weer vir mense moontlik te maak om te gaan werk en vir ondernemings, soos eenmansake, om te begin funksioneer.
"Die VF Plus hoop dat dit in president Ramaphosa se aanbevelings van eerskomende Donderdag verreken sal word," sê Groenewald.