fbpx
Vryheidsfront Plus

Staatsrede 2021: President moet duidelikheid gee oor talle sake soos plaaslike verkiesing en Zuma se minagting van Grondwethof

"Die tyd het aangebreek vir president Cyril Ramaphosa om aan die mense van Suid-Afrika te sê of die plaaslike verkiesing later vanjaar gaan plaasvind en of die ANC-regering beplan om die Grondwet te wysig om die verkiesing uit te stel," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Dit is een van die belangrikste aspekte waaroor die VF Plus van die president verwag om duidelikheid aan die mense van Suid-Afrika te gee.

"Wat ekonomiese groei aanbetref, wil die VF Plus nie hoor van nóg ‘n konferensie saam met sakelui oor werkskepping sonder dat iets daadwerklik gedoen word nie.

 

"Almal weet die ekonomie moet gestimuleer word en werk moet geskep word, maar die publiek wil weet wat die president gaan doen, wanneer hy dit gaan doen en hoe. Hy moet nou die detail oor die werkskeppingsplanne gee."

 

"In hierdie verband moet die president dit duidelik stel dat die privaatsektor nie die vyand is nie, maar dat ekonomiese groei en werkskepping juis van die privaatsektor afhanklik is. Daarom sal die VF Plus wil hoor dat daar planne aangekondig word om 'n meer gunstige omgewing vir die privaatsektor te skep met vrystelling van drakoniese wetgewing wat ontwikkeling striem en belastingverligting moontlik maak.

"Wat die Covid-19-pandemie en die entstof-debakel aanbetref, moet president Ramaphosa aankondig dat die privaatsektor toegelaat sal word om die entstof in te voer en te versprei. Die regering se gesentraliseerde model ten opsigte van die entstof is reeds as 'n mislukking bewys.

"Die president sal ook duidelikheid moet gee oor hoe die regering die entstof wat reeds aangekoop is en as ondoeltreffend teen die plaaslike variant van die virus bewys is, gaan hanteer en hoe die finansiële verlies wat gely is, verreken gaan word.

 

"Dit is ook belangrik om duidelikheid te gee oor korrupsie en wat hy as politieke hoof van die land gaan doen om korrupsie uit te roei, beginnende in die parlement met lede van veral sy eie party. Hy moet begin besef dat die belange van Suid-Afrika veel belangriker is as die probleme en die belange van die ANC."

 

"Ek verwag van die president om politieke uitsprake te maak oor sy partylede in die regering wat voor die Zondo-kommissie na staatskaping geïmpliseer is oor hul betrokkenheid by korrupsie.

"President Ramaphosa is ook stil oor oud-president Jacob Zuma wat openlik sê hy steur hom nie aan die uitspraak van die Grondwethof oor sy verskyning voor die Zondo-kommissie nie. Dit is ‘n direkte ondermyning van die Grondwet en die werk en integriteit van die kommissie.

"Veral sakelui se aandag is hierop toegespits aangesien die president se uitsprake en optrede hieroor gaan bepaal of die boodskap uitgestuur gaan word dat Suid-Afrika net nóg ‘n korrupte Afrika-staat gaan word wat hom soos ‘n piesangrepubliek nie steur aan grondwetlike beginsels nie," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Van die VF Plus se politieke lessenaar
Dalien Steyn

Meningspeilings en verkiesingsuitslae

Daar is die afgelope ruk byna elke week ʼn nuwe meningspeiling wat voorspel hoe politieke partye in die komende verkiesing gaan vaar.

Die jongste dag-tot-dag-meningspeiling van die Social Research Foundation (SRF) dui daarop dat die ANC nou voorloop in KwaZulu-Natal nadat hy sy groot kanonne ingestuur het om in die provinsie stemme te werf.

LEES MEER
Jongste nuus
Amanda de Lange

Lesufi faal welsynsorganisasies

Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi en die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Mbali Hlope, se krisisbestuur om welsynsorganisasies wat nog nie hul diensooreenkomste ontvang het nie

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.