"Die minister vir hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, se verklaring oor gereedheid vir die akademiese jaar in sy departement, het die grondliggende dilemma van die regering se beleid ontbloot: Dit is dat die staat wel vir die verskaffing van hoër onderwys verantwoordelik is, maar nie vir elke aspek daarvan verantwoordelikheid kan neem nie," sê Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van hoër onderwys.
"Hoër onderwys speel verskeie rolle in die samelewing: Dit skep die grondslag vir wetenskaplike – en tegnologiese vernuwing en vooruitgang deur navorsing, sowel as die kweek van nuwe wetenskaplikes; dit berei jongmense vir die werksomgewing voor; dit bemiddel denke oor mense en die mens se plek in die wêreld deur die kweek van kunstenaars, filosowe en ander geesteswetenskaplike denkers.
"Deur hierdie aktiwiteite skep dit gedeeltelik die leierskorps van die toekoms – hoewel leiers ook op talle ander maniere gevorm word.
"Dit is dus duidelik dat die staat grootliks vir die voorsiening van hoër onderwys verantwoordelik moet wees. Tog behoort die burgery te besef dat hoër onderwys 'n buitengewone voorreg is – nie 'n basiese mensereg soos basiese onderwys, water of behuising nie.
"Een van die wonderlike kenmerke van hoër onderwys is dat dit mense, ongeag hul agtergrond, kan bemagtig. Daarom is befondsing vir skoolverlaters wat nie verdere studie kan bekostig nie, van kardinale belang."
"Die private sektor, staatsondernemings, instellings van die staat, soos die RGN of WNNR en die staatsdiens self, wat goed bestuur word en vertroue in die toekoms het, is gretig om in studiebeurse te belê. Dit lei tot mededinging om goeie studente reeds op skoolvlak te identifiseer en hul studies te befonds.
"Die ontwikkelingstaat van die ANC oorskat egter die rol wat die staat in die ekonomie behoort te speel. Die staat word 'n versorgende moeder wat alles wil voorsien – en van wie alles gevolglik verwag word.
"Wanneer alles van die staat verwag word en die staat poog om aan die verwagtings te voldoen, word die burgery swaar belas en die ekonomie oormatig gereguleer. Dan neem vertroue in die toekoms af en ondernemings wat beurse sou toeken, hou op om dit te doen. Dan verskuif hierdie verantwoordelikheid na die staat, boonop met verwagtings waaraan nie voldoen kan word nie.
"Die staat se beursfondsskema, NSFAS, is inderdaad 'n instelling wat van 'n baie lae laagtepunt opgeskiet het en binne 'n jaar die meeste van sy probleme kon uitstryk. Sommige universiteite presteer goed, ander minder goed; en die sogenaamde TVET-kolleges ervaar nog aansienlike probleme. Net soos alles in die departement nie goed gepraat kan word nie, is daar veel wat lofwaardig is en erkenning verdien.
"Die VF Plus erken die wesenlike rol van die staat in hoër onderwys; ook dat die staat voorkeur moet gee aan mense wat om sosio-ekonomiese – of historiese redes nie soveel keuses het as ander nie. Tog moet markkragte 'n groter rol speel en staatsbefondsing so toegeken word dat elkeen, ryk of arm, wat hoër onderwys ontvang, besef watter voorreg dit is. Dit is tans nie die geval nie," sê Boshoff.