"Die VF Plus betreur die standpunt van die adjunk-minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, mnr. Buti Manamela, dat rasgeteikende befondsing vir studente steeds nagejaag word, al is die teikens in dié verband behaal," sê Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van hoër onderwys.
"Dit is tydens gister se sitting van die parlementêre portefeuljekomitee vir hoër onderwys bevestig dat die Nasionale Navorsingstigting daarna mik dat 80% van alle nagraadse studente wat befonds word swart moet wees en 55% daarvan vroue.
"Op honneursvlak was 90,7% van die studente wat in 2018/19 befonds is swart en 59,2% vroue. Op magistervlak is die syfers onderskeidelik 79,3% en 57,7%; en op doktorale vlak 75,0% en 51,8%.
"Hierdie syfers toon aan dat drie van die mikpunte vir befondsing reeds oortref word, terwyl die ander drie naby daaraan is.
"Dit het tot 'n vraag van die VF Plus gelei, om uit te vind of bevoordeling van aangewese groepe gestaak gaan word om te verhinder dat nuwe wanbalanse geskep word.
Adjunk-minister Manamela se reaksie op die vraag was: "We meet targets, but not actual demand." Daarmee het hy bevestig dat daar geen verslapping in die teiken vir aangewese groepe sal wees nie.
"Die VF Plus beskou dit as 'n duidelike teken dat die ANC-regering geen plan het om nou of in die toekoms van rasgegronde teikens afstand te doen nie. Dit herbevestig die noodsaaklikheid vir Afrikaners en ander minderhede om na hul eie opleiding en toekoms om te sien," sê Boshoff.