Die VF Plus verwelkom die bedanking van Nosiviwe Mapisa-Nqakula as speaker van die Nasionale Vergadering (NV) en as lid van die parlement.
Sy het geen keuse gehad as om te bedank nie aangesien sy in haar posisie as speaker ʼn voorbeeld moet wees van integriteit, eerlikheid en respek om die waardigheid van die parlement te beskerm.
Mapisa-Nqakula het al hierdie aspekte in die gedrang gebring en sy het ʼn verleentheid vir die parlement geword. Sy moes daarom bedank.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se spesiale ondersoekspan ondersoek bewerings dat Mapisa-Nqakula omgekoop is met “geskenke” van weermag-kontrakteurs terwyl sy minister van verdediging was.
Sy is in 2012 aangestel as minister van verdediging en militêre veterane en is in 2021 vervang deur Thandi Modise ná verkeie skandes soos die Guptas se landing op die lugmagbasis Waterkloof, die gebruik van ʼn lugmagvliegtuig om ANC-lede na Harare te neem en die leemtes in die weermag wat duidelik geblyk het met die onrus in 2021.
In 2021 reeds het fluitjieblasers na vore gekom met bewerings dat Mapisa-Nqakula miljoene rande van weermag-kontrakteurs ontvang het. Daaroor is wyd in die media berig en sy het dit deurgaans ontken.
Die VF Plus was om hierdie redes van meet af aan gekant teen haar aanstelling as speaker en is nou reg bewys.
Mapisa-Nqakula stel sodoende ook ʼn voorbeeld vir ander parlementslede wat hulle in ʼn soortgelyke situasie bevind met ernstige aantygings teen hulle, om ook te bedank as lede van die parlement.