Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit: Verslag steeds uitstaande en stad nog sonder burgemeester

Die onsekerheid oor leierskap in die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit, wat Kimberley en omstreke bedien, begin krisis-afmetings aanneem.

Weens 'n krisis hieroor wat einde Mei 2018 begin het, het die stad slegs ‘n waarnemende speaker, munisipale bestuurder en finansiële hoof, en geen burgemeester  nie. 'n Uiters belangwekkende verslag oor wanadministrasie word ook nie openbaar gemaak nie.

Die krisis het met betogings oor dienslewering en 'n nuwe kragtariefstruktuur begin. Om gedeeltelik aan die skare se eise toe te gee, is die munisipale bestuurder en hoof-finansiële beampte op "voorkomende suspensie" geplaas, sodat beskuldigings teen hulle ondersoek kon word.

'n Paneel, wie se lede uit die provinsiale departement vir plaaslike regering, die tesourie, SALGA en die premier se kantoor verkry is, sou die beskuldigings kragtens Artikel 106 van die Munisipale Bestuurswet ondersoek.

"Intussen het die oorheersende faksie binne die ANC die speaker afgedank. Dit het tot die vorming van 'n rebellefaksie binne die ANC gelei, wat met die DA en die EFF saamgespan het om die burgemeester af te dank," sê Wynand Boshoff, VF Plus-leier in Noordwes.

"Die afdanking is weens 'n onvoldoende proses deur die hof ter syde gestel, maar die burgemeester het kort daarna, op 26 September 2018 bedank.

"Die munisipale raad sou op 28 September byeenkom om 'n nuwe burgemeester te verkies. Die vergadering is weens wanorde in die openbare galery afgestel. Daarna sou die raad volgens skedule op 2 Oktober vergader om 'n nuwe burgemeester te verkies en ook die Artikel 106-verslag, wat intussen voltooi is, ter tafel neem. Daardie vergadering is die dag vooraf tot 31 Oktober uitgestel.

"Die VF Plus het die Noord-Kaapse uitvoerende raadslid vir plaaslike regering en ander belanghebbendes in 'n brief gevra om stappe te neem om die situasie so gou moontlik te beredder. Die LUR het die speaker gevra om 'n vergadering vir 16 Oktober te belê, maar dit is sowat twee uur voor die tyd gekanselleer, weereens weens veiligheidsredes. Dit beteken dat die stad steeds sonder 'n burgemeester is en geen kennis van die inhoud van die verslag dra nie

"Lede van die DA, die EFF en die rebelle ANC-lede het in die raadsaal byeengekom om advies van die Artikel 106-paneel oor die pad vorentoe te verkry. Volgens die VF Plus is so 'n stap onwettig en die party het nie aan die informele byeenkoms deelgeneem nie.

"Dit is vir die VF Plus duidelik dat die ANC uitsteltegnieke gebruik om sy huishoudelike sake in orde te kry voordat 'n nuwe burgemeester verkies word. Dit lyk ook of die ANC die bekendmaking van die verslag oor wanadministrasie so lank moontlik wil uitrek.

"Opposisiepartye moet egter daarteen waak om nie uit ongeduld ontoepaslike stappe te neem nie. Daarom dring die VF Plus daarop aan dat die uitgestelde vergadering in dié week nog belê word, sodat stabiliteit na Sol Plaatje kan terugkeer.

"Dit is een van die grondliggende voorwaardes vir Kimberley om die beleggings te lok wat ekonomiese groei sal bewerkstellig, sê Boshoff.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.