Dit is skokkend dat die groeiende slagting onder boere van Suid-Afrika nie as belangrik genoeg geag word om in die land se parlement bespreek te word nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Nadat dr. Groenewald verlede week (16 Februarie) die Speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, versoek het om ‘n dringende debat oor die plaasmoorde en –aanvalle toe te laat, het hy nou die antwoord ontvang dat die versoek afgekeur is.
Dr. Groenewald sê dit is tragies dat ‘n moord op ‘n boer sowat elke vierde dag in Suid-Afrika en feitlik ‘n plaasaanval per dag volgens die Speaker nie dringend genoeg, of van genoegsame nasionale belang is om ‘n parlementêre debat daaroor toe te laat nie.
In die Speaker se antwoord skryf sy onder meer die aanvalle op boere is wel ‘n “ernstige aangeleentheid”, maar dat dit nie ‘n onmiddellike debat regverdig nie.
Volgens dr. Groenewald beskou die VF Plus dié besluit as skokkend onvanpas. Hy sê dit is ook ‘n duidelike weerspieëling van die ANC-regering se houding oor die jare teenoor plaasaanvalle. Dr. Groenewald gaan dit egter nie daar laat nie en gaan vra vir ‘n persoonlike afspraak met die Speaker om die saak met haar te bespreek.
“Die hele land en die internasionale gemeenskap moet hiervan kennis neem. Dit wil voorkom asof die lewe van boere en hul werkers vir die regering nie van belang is nie.
“Tot en met die vyftiende van vandeesmaand is elf mense net in hierdie maand op plase vermoor terwyl daar dertig aanvalle was. In 2016 is 70 boere in 345 plaasaanvalle vermoor. Dit is een moord sowat elke vierde dag en feitlik ‘n plaasaanval per dag.
“Dit is absoluut onverstaanbaar dat die Speaker kan sê dit is nie belangrik of dringend genoeg om te bespreek nie.
“Veral kommerwekkend is die skerp toename in die aantal moorde en veral plaasaanvalle oor die laaste paar jaar, asook die brutaliteit in baie van die voorvalle. Die nasionale polisiediens kon ook nie daarin slaag om sy plig uit te voer om landelike gebiede en in die besonder die boerderygemeenskap, te beveilig nie.
“Dit kan eenvoudig nie so voortgaan nie. Plaasaanvalle raak elke Suid-Afrikaner. Die landbousektor voorsien werk aan byna ‘n miljoen mense terwyl die sektor 6,9% bydra tot die BBP van die land.
“Daar is reeds minder as 35 000 kommersiële boerdery-eenhede oor om voedsel vir die land te produseer.
“Die verlies van 'n boer, hetsy ‘n kleinhoewe- of kommersiële boer, het nie net 'n onmiddellike direkte impak op die families van die vermoorde boer en sy of haar werknemers nie, maar dit is 'n direkte bedreiging vir voedselsekerheid en uiteindelik die BBP van die land.
“Dit hou daarom nie net ernstige gevolge in vir die veiligheid van die land in terme van voedselsekuriteit nie, maar ook vir die stabiliteit van die arbeidsmark en ekonomiese ontwikkeling in die algemeen.
“Hierdie is ‘n groeiende tragedie wat voor ons afspeel, en die regering kan ingryp indien die politieke wil daar is. Dit is nou egter duidelik dat hy met gevoude hande sit en toekyk terwyl die slagting op plase voortduur,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403