Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Rioolbesoedeling in die Noord-Kaap: Nuwe denke is nodig

Riool wat in strate tussen spelende kinders loop is een van die skokkende verskynsels waarvoor Suid-Afrikaners al afgestomp geraak het.

"Ironies is dat riool wat hierdie week 'n begraafplaas in Postmasburg oorstroom het, die aandag daarop gevestig het dat nuwe denke nodig is. Dit geld veral vir die Noord-Kaap waar water selfs in goeie jare skaars is," sê Dr Wynand Boshoff, VF Plus-LP en provinsiale leier.

Foto's wat 'n inwoner van Postmasburg in die Noord-Kaapse munisipaliteit van Tsantsabane op Facebook geplaas het en wat grafte in damme riool vertoon, is byna 1500 keer gedeel.

Die probleem is intussen deur die munisipaliteit herstel.

Boshoff sê dit het nogtans opnuut die aandag gevestig op hoe kwesbaar gemeenskappe is vir rioolwerke wat swak in stand gehou word. 

Hy sê die meeste rioolwerke in Suid-Afrika is in die jare sestig ontwerp, na 'n groot vlaag van verstedeliking en installering van lopende water dit noodsaaklik gemaak het.

Die benadering was in die algemeen dat rioolwater 'n vorm van afval is, waarvan ontslae geraak moet word. Afwisseling van aërobiese en anaërobiese prosesse, sowel as sandfiltrering, is gebruik om besoedelende stowwe uit die water te verwyder.

In sommige gevalle is die water deur 'n biologiese filter van vleiplante gelei voor dit in riviere teruggeplaas is, maar meer dikwels is dit na verdampingsdamme herlei. Kenmerkend van hierdie stelsels is dat dit duur is om te ontwikkel en heelwat energie verg om in stand te hou. Omdat skaalvoordele behaal kan word, is groot dele van 'n stad of dorp se riool na sentrale rioolplase gepomp.

Volgens Boshoff het hierdie stelsels het oor die laaste dekades om twee redes onder druk gekom. Versnelde verstedeliking het groter volumes riool teweeg gebring as waarvoor beplan is; en die swak prestasie van plaaslike owerhede beteken dat rioolwerke ook nie in stand gehou word nie. Besoedeling soos by Kimberley se Gogga-pompstasie, waar daar chroniese lekkasies voorkom asook die onlangse voorval by Postmasburg, illustreer hierdie probleem.

"Intussen kan die Noord-Kaap nie bekostig om enige water te verloor nie. Die rioolstroom kan nie meer as 'n afvalstroom beskou word waarvan ontslae geraak moet word nie, dit moet as 'n hulpbron beskou word wat ontgin moet word.

"Oor die laaste twee tot drie dekades is talle biologiese suiweringstelsels vir rioolwater ontwikkel wat elders ter wêreld doeltreffend gebruik word. Die beginsel is om 'n ekostelsel te ontwikkel wat met tyd versterk en meer stabiel raak en wat minder afhanklik van onderhoud is. In ruil word plantprodukte vir boumateriaal, brandstof en selfs dierevoer geproduseer, terwyl bruikbare water weer aan die ekologie vrygestel word.

"In die Noord-Kaap behoort geen nuwe rioolstelsel op 'n ander beginsel geskoei te word nie," sê Boshoff.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.