"‘n Reuse krisis het ontstaan vanweë die Ongevallekommissaris se onvermoë om eise vanaf mediese praktisyns en begunstigdes te administreer en te betaal," sê Heloïse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van arbeid.
"Die krisis het nou die punt bereik waar onder andere dokters, fisioterapeute, arbeidsterapeute en ander mediese en paramediese praktisyns, geen ander keuse het as om personeel af te lê en selfs hul praktyke te sluit nie.
"Die Ongevallekommissaris het in Augustus 2019 van die uMehluko-stelsel na Compeasy oorgeskakel. Sedert hierdie oorskakeling kan mediese diensverskaffers nie toegang tot die stelsel verkry om eise in te dien vir die vergoedingsfondspasiënte wat deur hulle behandel word nie.
"Die VF Plus is deur verskeie diensverskaffers en begunstigdes genader wat net eenvoudig nie meer sonder betaling kan voortgaan nie. Dit sluit in weduwees wat afhanklik is van die fondse as enigste bron van inkomste en dokters wat meer as R2 miljoen geskuld word en nou oorweeg om hul praktyke te sluit."
"Die Ongevallekommissaris het tot onlangs volgehou dat eise geadministreer word en dat betalings gemaak word. Klagtes oor die stelsel wat nie werk nie is afgemaak as foutjies in die stelsel en verbruikers se onvermoë om met die stelsel te werk. Verdere opleiding is voorgestel om die probleem aan te spreek. Dit is egter hoegenaamd nie die ware toedrag van sake nie.
"Die VF Plus het die voorsitter van die portefeuljekomitee oor arbeid versoek om die probleem op ‘n dringende basis aan te spreek. Opposisiepartye het verskeie diensverskaffers en tussengangers genooi om vandag die vergadering van die portefeuljekomitee by te woon waar die minister, die departement en die Ongevallekommissaris voor stok gekry is oor die krisis by die fonds.
"Die minister van arbeid, Thulas Nxesi, het in weerwil van die Ongevallekommissaris, Vuyo Mafata, se ontkenning van die probleme by die fonds, onderneem dat die departement die klagtes van diensverskaffers en begunstigdes op ‘n individuele basis sal hanteer, ten einde ‘n oplossing te formuleer.
"Die VF Plus sit voortdurend druk op die departement en Ongevallekommissaris om die probleme by die fonds spoedig en effektief te behandel," sê Denner.