"Dit is onaanvaarbaar dat regeringsdepartemente en entiteite nie voldoende gehoor gee aan die Covid-19-regulasies en voorskrifte van die departement van arbeid vir werksplekke nie," sê Heloīse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van arbeid.
"Volgens die inspekteur-generaal van die departement voldoen slegs 47% van die openbare sektor aan die regulasies, terwyl die meerderheid van privaatsektor-ondernemings voldoen aan hierdie vasgestelde voorskrifte.
"Dit is noemenswaardig dat die meerderheid van privaatsektor-ondernemings aan die regulasies voldoen inaggenome die bykomende koste en prosedures wat met voldoening gepaard gaan. Dit is egter nie aanvaarbaar dat die regering, wie die regulasies uitvaardig en moet afdwing, se eie departemente en entiteite nie behoorlik aan regeringsregulasies voldoen nie.
"Hierdie syfers is weereens bewys dat die regering, soos altyd, agter die deur staan en Suid-Afrikaners vir tekortkominge verkwalik terwyl hy self nie behoorlik sy eie regulasies kan toepas of uitvoer nie."
"Die Covid-19-pandemie het ‘n ekonomiese krisis in Suid-Afrika tot gevolg met geraamde toekomstige werksverliese van tot 2 miljoen. Die privaatsektor is die grootste werkskepper in Suid-Afrika.
"Die VF Plus het al verskeie kere gewaarsku dat die departement van arbeid privaatsektor-werkgewers moet ondersteun en bemagtig eerder as om hierdie werkgewers as die sondebokke voor te hou vir alle tekortkominge in die arbeidsmark," sê Denner.