"Misdaad in Suid-Afrika is buite beheer. Meer as 58 moorde vind per dag plaas. Elke 3 ure word ‘n vrou vermoor en 114 verkragtings vind per dag plaas. Die ANC-regering het duidelik sy plig en verantwoordelikheid versaak om die burgers van die land te beskerm," sê Tammy Breedt, VF Plus-LP.
"Die jongste misdaadstatistiek rakende kinders wys moord is op met 3%, poging tot moord is op met 11,8% en seksuele oortredings met 3,8%.
"President Cyril Ramaphosa wil ‘n mooi prentjie oor geslagsgeweld teen vroue en kinders skets en oor hoe die ANC-regering vir hulle omgee. Hy probeer die ANC se beeld poets deur met groot fanfare aan te kondig dat die R1,1 miljard vir die stryd teen geslagsgeweld tot R1,6 miljard verhoog gaan word.
"Hy praat mooi stories oor die dringendheid daarvan om die vyfbeenplan rakende geslagsgeweld in werking te stel. Maar die realiteit vertel ‘n ander storie. Die ANC is besig om geslagsgeweld as ‘n goedkoop politieke-foefie te gebruik terwyl mense seerkry en sterf. Voorbeelde daarvan is daagliks in die media. Dan is die regering stil.
"Wat misdaad teen boere aanbetref, moet daar eerder gepraat word van misdaad teen landbougemeenskappe, aangesien misdaad teen ‘n boer die hele gemeenskap raak. Nie net plaaslik nie, maar oor die hele land aangesien dit een van die groot faktore is wat voedselsekerheid bedreig."
"In Augustus vanjaar is 45 plaasaanvalle en 4 moorde aangemeld. In September 46 aanvalle en 7 moorde, in Oktober 28 aanvalle en 3 moorde. Dit hou net aan. Plaasaanvalle het met 60% toegeneem oor die laaste dekade.
"Die buitengewone brutaliteit wat plaasaanvalle en -moorde kenmerk is goed gedokumenteer. Nogtans hou die regering vol dit is gewone misdaad wat nie geprioritiseer hoef te word nie."
"Daar is wel oplossings. Die landelike veiligheidsplan kan ‘n groot rol hierin speel indien dit reg uitgevoer word. Landelike polisiekantore moet met mannekrag en toerusting toegerus word om misdaad in hierdie gebiede te bestry.
"Nog planne, nog voorstelle en nog komitees gaan nie help nie. Dit gaan nie een aanval voorkom en nie een lewe red nie. Daar moet nou opgetree word," sê Breedt.