Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Privatiseer SA-treindienste (Debat in NRP: Herstel en modernisering van spoorinfrastruktuur in SA)

Die privatisering van Transnet en Prasa is die enigste oplossing vir die verval van die spoornetwerk en treindienste in die land.

Hierdie twee staatsbeheerde maatskappye het onder ANC-bewind oor die afgelope 28 jaar toegesien dat ‘n eens doeltreffende diens- en spoornetwerk vernietig word.

Volgens verslae het die getal treinpassasiers oor tyd vanaf 500 miljoen per jaar tot 17 miljoen per jaar gedaal.

Funksionele treinstasies het afgeneem van 590 tot 129. Altesame 461 treinstasies het in onbruik verval en is gevandaliseer en stuk vir stuk weggedra.

Honderde kilometer se spoorlyn is geplunder en as skrootmetaal verkoop weens ‘n gebrek aan toesig en instandhouding.

Net tussen 2017 en 2019 is bykans R1 miljard se belastinggeld bestee aan skynbaar vrugtelose pogings om spoorinfrastruktuur te herstel. Intussen bestee Prasa ‘n verdere R1 miljard per jaar aan sekuriteit.

Voeg hierby die reeds bekende voorvalle van korrupsie ten bedrae van miljoene rande met die aankoop van lokomotiewe waarby verskeie Prasa-bestuurslui betrek is, en die redes vir die verval van hierdie nasionale bates raak voor die hand liggend.

Dit is nóg ‘n voorbeeld van die gevolge van ANC-kaderontplooiing met die gepaardgaande ongebreidelde selfverryking ten koste van die land se inwoners.

Voorts het Transnet sedert 2011 kontrakte ter waarde van R25,5 miljard vir die bou van 554 lokomotiewe aan CRRC, ‘n staatsbeheerde Chinese maatskappy toegeken wat sukkel om sy kommersiële diensverpligtinge na te kom.

Om dié stand van sake te vererger, het hierdie bedrag intussen aangegroei tot R54 miljard.

Hierdie voorbeelde van wanbestuur en korrupsie by dié staatsentiteite is legio.

Dit is daarom dringend noodsaaklik dat Transnet en Prasa onder professionele private bestuur geplaas word tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.

Daar kan nie toegelaat word dat die ANC voortgaan om miljarde rande se belastinggeld te mors om die voortgesette wanbestuur, korrupsie en verval by Prasa en Trasnet te finansier nie.

Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.