"Die besluit van president Cyril Ramaphosa om inperking van rampregulasies eers teen die einde van vandeesmaand (Mei) tot op Vlak Drie te verlaag en in sekere distrikte op Vlak Vier te hou, is irrasioneel en te stadig om langtermyn-skade aan die ekonomie te voorkom," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Daar moet ook in gedagte gehou word dat minister Nkosazana Dlamini-Zuma nog haar insette moet lewer en die detail van die Vlak Drie-regulasies moet nog gepubliseer word.
"Dit is ‘n geval van te min te laat en is onverstaanbaar aangesien die president aan die begin van sy toespraak self gesê het die inperking was suksesvol en het grootliks sy doel gedien om die virus se verspreidingskurwe af te plat en om die land se gesondheidstelsel in gereedheid te bring vir die verwagte uitbreking en behandeling wat in die vooruitsig gestel word.
"Die VF Plus is van mening dat die ekonomie nou vinnig kan ontsluit gepaardgaande met streng gesondheidsmaatreëls waaraan sake-ondernemings moet voldoen. Indien hulle dit kan doen, moet hulle toegelaat word om weer sake te doen."
"Dit is veral die eenmansake soos haar- en skoonheidsalonne en in die toerismebedryf waar groot skade aangerig gaan word. Hierdie kleiner ondernemings sal nie kan oorleef tot einde Mei nie.
"Die risiko-analitiese-benadering wat president Ramaphosa tot nou toe gevolg het, het volgens hom die gewenste uitwerking gehad en die publiek het grootliks hul samewerking gegee om die verspreiding van die siekte te beperk.
"Die VF Plus is daarom van mening dat dit lankal tyd is om vinniger te beweeg met die ontsluiting van die ekonomie aangesien die inperking en streng regulasies wat daarmee gepaard gegaan het, reeds grootliks sy doel gedien het.
"Dit was altyd belangrik om ‘n sinvolle balans te vind tussen die verspreiding van die virus en die ontsluiting van die land se ekonomie. Om nog twee weke te wag om na Vlak Drie af te beweeg sal hierdie balans nou ernstig versteur.
"Baie van die huidige regulasies en moontlik ook dié wat tydens Vlak Drie sal geld is nie in lyn met die doelwit om die virus te bekamp nie, maar eerder irrasioneel.
"Verdere inperkings sal nou meer skade aan die ekonomie en lewenssekerheid van gewone burgers aanrig as wat dit die verdere verspreiding van die virus verder sal beperk."
"Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om hierdie inperkings en menseregteskendings deur die regering stop te sit en oorweeg die gepaste stappe," sê Groenewald.