Die VF Plus wil dit duidelik stel dat die Gautengse premier, David Makhura, sy vingers gaan verbrand deur grond in Gauteng wat in onbruik is, sonder vergoeding te onteien,"sê Philip van Staden, VF Plus LPW in die Gauteng-wetgewer.
"Hy is besig om hierdie sensitiewe proses vooruit te loop. Sy uitsprake beteken dat grond of geboue in Gauteng wat nie gebruik of beset word nie, sonder vergoeding onteien en aan ander oorhandig gaan word," sê van Staden.
Makhura het Vrydag aangekondig dat, met onmiddellike effek, begin gaan word met grondonteiening sonder vergoeding om Die Grondwet te toets.
Volgens Makhua het die tyd aangebreek om ongebruikte grond te onteien. Hy het reeds 'n taakspan aangestel om private grond in die provinsie te identifiseer vir hierdie proses.
"Makhura probeer hierdeur bloot om die provinsie se laksheid om behuising aan sy inwoners te verskaf, toe te smeer deur voortydig op die wa van grondonteiening sonder vergoeding te spring.
"Die provinsie se departement van behuising het reeds 'n agterstand van 800 000 huise wat gebou moet word en dit is duidelik dat die ANC en Makhura se belofte in Gauteng, dat alle informele nedersettings teen 2019 uitgewis gaan wees, nie gaan realiseer nie. Hy gebruik nou hierdie sensitiewe kwessie voortydig om sy departement se laksheid toe te smeer.
"Dit is ook duidelik dat Makhura se aankondiging vroeër vanjaar, dat hy provinsiale grond beskikbaar gaan stel vir sy "vinnige landverspreidingsprogram", reeds gesneuwel het en dat hy nou alles in die stryd sal werp vir politieke oorlewing in Gauteng.
"Makhura moet besef dat daar reeds meer as 100 000 beswaarskrifte by die VF Plus ingedien is teen die ANC se beoogde wysiging van Artikel 25 van die Grondwet," sê Van Staden.
Die VF Plus het die versoekskfrifte Donderdag aan die parlement se grondwetlike hersieningskomitee oorhandig. Die VF Plus-leier, dr. Pieter Groenewald, het dit beklemtoon dat enige verandering aan Die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, skadelik vir Suid-Afrika se ekonomie sal wees en alle landsburgers sodoende hul reg op eiendom sal verloor.
"Die VF Plus wil die premier daarop wys dat eiendomsreg 'n internasionaal erkende-basiese mensereg is en dat dit deur die Grondwet beskerm moet word in ooreenstemming met die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Handves en Deklarasie van Menseregte.
"Die VF Plus het Makhura reeds tydens sy provinsiale debat in Maart vanjaar gewaarsku dat die VF Plus op al drie vlakke van regering alles in sy mag sal doen om die onteiening van grond sonder vergoeding teen te staan," sê Van Staden.