Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Premier die oorsaak van swak ouditverslae van Vrystaatse munisipaliteite

Die Ouditeur-Generaal (OG), Kimi Makwetu, se oudit-uitkomste van Vrystaatse munisipaliteite wys dat die provinsie nie in goeie hande is nie, aangesien die premier, Sisi Ntombela, die LUR vir samewerkende regering was gedurende die tydperk (2016/2017) waaroor die OG verslag gedoen het.

Tammy Wessels, VF Plus wetgewerlid in die Vrystaat sê onder Ntombela se leiding as LUR en die ANC se wanbestuur in die provinsie, het alle Vrystaatse munisipaliteite volgens die OG nou ingryping nodig om totale finansiële ineenstorting te vermy.

Die OG het bevind dat twee Vrystaatse munisipaliteite, Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Welkom, Virginia en Hennenman) en die Mangaung-metro munisipaliteit (Bloemfontein, De Wetsdorp, Wepener en Vanstadensrus) onderskeidelik die twee top-posisies vir ongemagtigde uitgawes of oorbesteding in die land beklee.

Dit voorspel niks goed vir die Vrystaat se toekoms onder haar premierskap nie

 

Wessels sê die ANC se finansiële plundering van die Vrystaat blyk nie einde te hê nie met R640 miljoen rand se onreëlmatige uitgawes wat verband hou met betalings en uitgawes in die tydperk.

Die provinsie se oorbesteding en onreëlmatige uitgawes het plaasgevind te midde van konsultante wat R57 miljoen betaal is om die finansiële kontroles te verbeter.

“Die feit dat nie een Vrystaatse munisipaliteit ‘n skoon ouditverslag kon ontvang nie, wys dat die ANC nóg daartoe in staat is, nóg daarin belang stel om die provinsie met finansiële dissipline te bestuur, aangesien drie Vrystaatse munisipaliteite, Maluti-A-Phofung (Harrismith en QwaQwa), Mafube (Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling) en Masilonyana (Brandfort, Theunissen, Winburg en Verkeerdevlei), onder ANC-administrasie geplaas is, maar steeds nie beter ouditmenings kon kry nie.

“Makwetu bevestig nou dít waarteen die VF Plus lank reeds in die Vrystaatse wetgewer stry, naamlik onstabiliteit in die bestuur en leierskap in munisipaliteite, ‘n gebrek aan kundige amptenare, politieke inmenging in rade (veral waar skuldige amptenare verantwoordbaar gehou moet word) en korrupte amptenare wat aanhou om die Vrystaat te plunder.”

“As voormalige LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake was dit Ntombela se verantwoordelikheid om as politieke leier leiding te neem.

“Onder haar ly die Vrystaat nou eerder met krisisse in sy munisipaliteite. Dit voorspel niks goed vir die Vrystaat se toekoms onder haar premierskap nie," sê Wessels

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.