fbpx
Vryheidsfront Plus

Postbank net nóg ‘n voertrog vir kaders (Debat in parlement oor Suid-Afrikaanse Postbank Beperk-wysigingswetsontwerp)

Planne om die Postbank in ’n volwaardige staatsbank te omskep, is niks anders nie as nóg ‘n opportunisme poging van die ANC om ’n voertrog vir sy kaders te skep.

So ’n staatsbeheerde bank sal onhoubare druk op die fiskus plaas wat dit nie meer kan bekostig nie.

Selfs voor die rampspoedige gevolge van Covid-19 en beurtkrag op Suid-Afrika se ekonomie en finansies, het die Nasionale Tesourie (NT) dit duidelik gestel dat ’n staatsbeheerde bank ’n onbekostigbare las sou wees.

Volgens pres. Cyril Ramaphosa is so ’n bank noodsaaklik aangesien ander ontwikkelende lande ‘n soortgelyke bank het. Suid-Afrika moet opsluit daarom ook een hê.

Hierdie redenasie is net so absurd as om willens en wetens ‘n mafiabaas in die kabinet toe te laat.

Dit is algemeen bekend dat geen staatsbeheerde onderneming in die land behoorlik funksioneer nie. Daar rus ’n vloek van vernietiging op alles waarop die ANC sy hande lê vanweë wanadministrasie en korrupsie.

Soos die Postbank tans daar uitsien, is hy reeds een van die vele mislukte staatsondernemings. Sy onreëlmatige besteding in die laaste finansiële jaar het met R118 miljoen toegeneem.

Hy kon nie eens ’n veilige stelsel in plek plaas met bankkaarte vir Sassa-begunstigdes nie. R68 miljoen is in die proses verlore en die heel armes het die swaarste onder hierdie bedrogspul gely.

Die doel van die bank is bloot om geld wat tans deur private en handelsbanke geadministreer word, na ’n staatsonderneming te skuif waar kaders maklike toegang daartoe sal hê. Die ANC het hierdie resep al vervolmaak.

Die Postbank sal sonder enige twyfel katastrofiese gevolge inhou.

Suid-Afrika kan en sál in 2024 ontslae raak van die regering wat gewetenloos die staatskas gestroop het terwyl miljoene mense in die grootste armoede gedompel is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.