Die VF Plus is saam met ander Noord-Kapenaars geskok oor die wrede aanval op die bekende Piet Els (86) en sy lewensmaat, Rikkie Alsemgeest (66)," sê dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse leier van die VF Plus.
“Die vraag kom altyd na vore of ons met ‘gewone’ of politieke misdaad te doen het. In hierdie verband moet mnr. Els se status as prominente grondeienaar rondom Kimberley in ag geneem word," sê dr Boshoff.
"Dit is jammer dat politici met onverantwoordelike uitsprake moontlik die grond vir sulke aanvalle voorberei"
Boshoff sê politici in die Sol Plaatje-munisipale raad het oor die afgelope maande dikwels in verband met Els na onteiening sonder vergoeding verwys, as 'n manier om grond vir goedkoop residensiële ontwikkeling beskikbaar te verkry.
"Hoewel die Noord-Kaap tot dusver minder plaasaanvalle as ander provinsies beleef het, het hierdie aanval baie mense tot werklikheid geruk.
“Min is nog bekend oor die aanval, buiten dat dit deur oormatige wreedheid gekenmerk is.
“Die besonderhede rondom die aanval is onbekend, maar dit is jammer dat politici met onverantwoordelike uitsprake moontlik die grond vir sulke aanvalle voorberei,” sê dr. Boshoff.
Luidens mediaberigte is beide slagoffers met ‘n strykyster gebrand en geslaan waarna hulle vasgebind en beroof is.
Albei sterk tans in die hospitaal aan.