Die betogings by die Hoërskool Overvaal is ‘n bewys dat die ANC en sy volgelinge soos Cosatu, Sadou, Cosas asook die EFF, geen respek vir die Grondwet en die reg in Suid-Afrika het nie, en die enigste verloorders is die skoolkinders aan albei kante, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Hy sê die misbruik van leerlinge van nabygeleë skole om aan die optog deel te neem, is onaanvaarbaar aangesien dit rassewrywing skep onder ‘n geslag jong mense in ‘n bedeling waar apartheid lank nie meer bestaan nie.
“Dit is jammer dat moreel bankrot partye en organisasies om eie gewin bereid is om gevoelloos rassespanning onder die jeug aan te wakker waar daar wel goedgesindheid heers.
“ ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die uitlatings van ‘n jong swart man wat tans die rondte op die sosiale media en in die media doen.
“Die man, Kamo Tjelele, het vandeesweek op sy eie Facebook-profiel geskryf hy was self ‘n leerling aan die Hoërskool Overvaal, en dat hy nooit enige vorm van rassisme ervaar het nie. Hy skryf tewens dat hy net vriende gemaak het, en nie vyande nie.
“Dit is hierdie gees van welwillendheid onder die jeug wat skade ly in die poging van desperate partye en organisasies om steun te werf. Dit benadeel gehalte onderrig wat broodnodig is om die jeug goed op te lei en hulle bemagtig om by te dra tot die ekonomiese groei van die land.
“Die VF Plus veroordeel hierdie optogte omdat dit nie binne die raamwerk van vreedsame protes val soos deur die Grondwet voorgeskryf word nie, maar blote aanstigting tot anargie is wat juis die Grondwet ondermyn.
“Ek is reeds in ‘n proses om op die hoogste politieke vlak die aangeleentheid oor die toekoms van Afrikaans in die onderwys te bespreek om ‘n wen-wen-situasie vir almal te skep,” sê dr. Groenewald.