Die VF Plus het met die hulp van me. Karin Depken, VF Plus-dagbestuurslid in die Noord-Kaap en inwoner van Philipstown, die onwettige afsny van Philipstown se krag gekeer.
Die Renosterberg-plaaslike munisipaliteit (Petrusville, Philipstown, Van der Kloof) sou die kragtoevoer na Philipstown op 4 Augustus afgesny het.
Die munisipaliteit lewer vir die afgelope maande nie meer enige kragrekeninge aan inwoners nie. Die gevolg is dat inwoners nie weet wat hulle aan die munisipaliteit verskuldig is nie.
Munisipale amptenare het sonder kennisgewing by inwoners opgedaag en op ’n bedrag aangedring om te verhinder dat hul krag sonder meer afgesny word. Dié optrede is onwettig omdat die voorgeskrewe wetlike prosesse nie gevolg is nie.
Die wetlike proses behels dat die munisipaliteit ’n kennisgewing op die rekeninghouers moet beteken. Die kennisgewing moet die spesifieke bedrag wat agterstallig is, aandui.
Die rekeninghouer moet die geleentheid kry om binne 14 dae die rekening te vereffen, of om ’n reëling ten opsigte van afbetaling te tref, of om ’n dispuut te verklaar.
Hierdie prosedure stel munisipaliteite in staat om slegte skuld in te vorder indien dit korrek gevolg word.
Me. Depken het ’n griefskrif opgetrek en daarmee saam het die VF Plus se regskomitee ‘n memorandum opgestel. Albei dokumente is aan die burgemeester, mnr. Andrew Samson, oorhandig.
Die memorandum verwys na wetgewing wat betrekking het tot die afsny van kragtoevoer en dring daarop aan dat die kragvoorsiening aan Philipstown dadelik herstel word.
Die kragtoevoer is daarna herstel.
Munisipaliteite stel hulle bloot wanneer hulle versuim om aan wetlike vereistes te voldoen. Renosterberg se situasie is al ’n geruime tyd beroerd.
Eskom het verlede jaar, weens uitstaande skuld, op die munisipaliteit se bankrekening beslag gelê. Dit het daartoe gelei dat munisipale amptenare vir maande geen salaris ontvang het nie.
Die provinsiale regering het die munisipaliteit in 2020 onder administrasie geplaas. Ongelukkig het dit nie die probleme opgelos nie, maar vererger.
Die munisipaliteit is tans nie meer in staat om sy grondwetlike verpligting teenoor die gemeenskap na te kom nie. Dienslewering het tot ’n groot mate tot stilstand gekom.
Dit is weereens duidelik dat die ANC nie oor die vermoë beskik om volhoubaar te regeer nie.
Die VF Plus is ten gunste daarvan dat munisipaliteite hul skuld invorder sodat dienste gelewer kan word. Die invordering moet egter streng volgens die wet toegepas word.
Die VF Plus sal as waghond aanhou optree sodat onwettige optrede van die munisipaliteite teengestaan kan word.