"Die eerste geval van die koronavirus is nou in Suid-Afrika aangemeld. Boonop lê die land se grense met sy buurlande oop en dit skep ‘n groot gevaar vir uitgebreide plaaslike verspreiding van dié dodelik virus wat teen gister wêreldwyd reeds die lewe van 3221 mense geëis het," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid.
"Daar is nie voldoende beheer oor die daaglikse toestroming van mense oor Suid-Afrika se grense nie en die land sal vinnig die voorbeelde van ander lande moet begin volg om sy grense toe te maak en te beskerm.
"Tans kan mense ongesiens deurkom vanaf Botswana, Zimbabwe, Lesotho en Swaziland. Grensbeheer moet opgeskerp word. Benewens Suid-Afrika, het die virus reeds kop uitgesteek in Algerië, Senegal, Marokko, Nigerië en Egipte."
"Strenger grensbeheer is nie ‘n maatreël om teen iemand te diskrimineer nie, maar die veiligheid van Suid-Afrika se burgers moet voorrang geniet. Die lewensbedreigende gevaar van die virus is wesenlik en groot, en alle Suid-Afrikaners moet hande vat om die gevaar te stuit. Dit is nie goed genoeg om net die land se lughawens en hawens te beskerm nie.
"Talle sportgeleenthede oor die wêreld is reeds af- of uitgestel. Een hiervan is die Olimpiese spele wat dalk in die slag kan bly. Ook hier sal Suid-Afrika dringend die voorbeeld van ander lande moet volg om sportbyeenkomste te kanselleer totdat die virus onder beheer is en dit veilig is vir internasionale spanne om Suid-Afrika te besoek.
"Die Wêreld-gesondheidsorganisasie (WGO) het gister aangekondig daar is nie genoeg beskermde toerusting om die verspreiding daarvan te voorkom nie. Die WGO het reeds ‘n beroep op regerings en maatskappye gedoen om hul produksie van beskermde toerusting met 40% te verhoog. Dit is een van die groot leemtes en uitdagings in Suid-Afrika," sê van Staden.