fbpx
Vryheidsfront Plus

Oneerlikheid oor beurtkrag is onrusbarend

"Dit is onaanvaarbaar dat Eskom die moontlikheid van beurtkrag ontken het toe vrese hieroor verlede maand aan die lig gekom het. Hierdie oneerlikheid oor ‘n uiters ernstige aangeleentheid is onrusbarend en die vraag kan tereg gevra word wat die ware omvang van die kragprobleem is," sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van openbare ondernemings.

"Eskom het slegs ‘n paar uur kennis aan Suid-Afrika gegee dat beurtkrag op hande is. Sake-ondernemings, fabrieke, en almal wat op krag aangewese is, kon geensins voorberei vir die gevolge van die kragonderbrekings nie. 

"Die publiek is duidelik mislei oor die erns van die probleem en die persone wat hiervoor verantwoordelik is, moet verantwoording doen en aanspreeklik gehou word vir die oneerlikheid.

"Die omvang van die skade aan Suid-Afrika se ekonomie is onmeetbaar. Dit kom ironies genoeg ook in ‘n tyd waar pres. Cyril Ramaphosa oorsese beleggers daarvan probeer oortuig dat Suid-Afrika ‘n goeie en veilige beleggingsopsie is, wat moontlik die rede verskaf vir Eskom se oneerlikheid in hierdie geval.

 

"Volgens die VF Plus is die oorsake ‘n  kombinasie van verskeie negatiewe faktore soos swak beplanning wat grootliks toegeskryf kan word aan ‘n tekort aan kundigheid weens regstellende aksie (RA) en die feit dat enige reddingspoging uitgelewer is aan die optrede en eise van vakbonde."

 

"Die regering laat toe dat hy deur die vakbonde gyselaar gehou word en voorkom word om die nodige herstrukturering van Eskom te implementeer.

"Terwyl daar kortstondige redes vir beurtkrag mag wees, is die onderliggende rede wanbestuur by Eskom weens die ANC se onvermoë om te regeer. Sedert die ANC oorgeneem het, het Eskom in die dryfsand van kaderontplooiing, onvoldoende onderhoud en kapitaalbesteding beland.

"Dit is die regering se taak om beheer oor die situasie by Eskom te neem, ongeag die teenstand van vakbonde. Eskom sal ook gedwing moet word om met private kragverskaffers mee te ding.

"Die kragnetwerk kan tereg die sement genoem word wat Suid-Afrika as staat byeen hou. Indien Eskom faal, bestaan ‘n reële moontlikheid dat die Suid-Afrikaanse staat in sy spore sal volg," sê Wessels.

  

 

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.