"Oor die ANC-regering se grandiose planne vir infrastruktuur-ontwikkeling kan net gesê word niks het verander sedert president Cyril Ramaphosa se beloftes verlede jaar van superstede nie en niks het verander sedert die betrokke minister, Patricia de Lille, se beloftes in die parlement van “implementering, implementering, implementering” nie," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van openbare werke en infrastruktuur.
"Tewens, niks het verander sedert 1994 nie. Al wat gesien is, is agteruitgang. Stede en dorpe kan nou nie eens in stand gehou word nie. Enige plan van die ANC om ‘n superstad te bou, sal daarom rampspoedig eindig.
Die volgende prentjie het oor die jare onder die ANC se “ontwikkelingsplanne” ontvou:
• Kragsentrales is meestal oud en buite werking.
• Gehawende rioolwerke stort jaarliks massiewe hoeveelhede rou riool in riviere teen ‘n tempo van sowat 50 000 liter per sekonde.
• Padnetwerke is oud en val uitmekaar.
• Brûe is nie meer veilig nie en kort dringend aandag.
• Spoorlyne is opgeroes, gevandaliseer of gesteel en stasies bestaan feitlik nie meer nie.
• Daar is ‘n groot tekort aan damme en die wat daar is, word besoedel.
• Daar is tekorte aan polisiekantore, hospitale, klinieke en skole. Die wat daar is, word nie in stand gehou nie.
• Geboue en ander bates is in so ‘n swak toestand dat dit miljarde gaan kos om te herstel.
• Munisipaliteite gebruik nie hul infrastruktuur-toelae nie en die agterstand met die instandhouding van infrastruktuur raak al hoe groter.
"Die vraag kan daarom tereg gevra word waarom die departement van openbare werke en infrastruktuur se sewe entiteite wanfunksioneel is en geen bydrae tot ontwikkeling lewer nie terwyl die belastingbetaler hulle moet onderhou.
"Die huidige ontwikkelingsplan is niks anders nie as ‘n verdere mors van tyd en geld. Dit is eintlik net die ou HOP-program van president Nelson Mandela van 1994 wat opgedateer is.
"President Cyril Ramaphosa se gespog oor die beloftes van die privaatsektor om te help met R340 miljard is niksseggend. Nie een sent daarvan is in die bank nie.
"Boonop vra die president die privaatsektor om toe te tree tot projekte om werk te skep, maar met die regering as projekbestuurder. Niemand sal daarby inkoop terwyl die ANC betrokke is nie. Sukses sal net bereik word met die privaatsektor self as projekbestuurder.
"Soos daar nou al male sonder tal gesien is, is geen geld veilig solank die ANC enige beheer daaroor het nie. Dit sal soos die Covid-19-hulpfonds oornag in die sakke van kaders verdwyn.
"Ekonomiese groei en beleggings sal net realiseer wanneer weggedoen word met skadelike beleid soos regstellende aksie (RA), swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en onteiening sonder vergoeding. Infrastruktuur-ontwikkeling sal hiermee saam plaasvind en groei.
"Ware groei en vooruitgang sal egter eers plaasvind wanneer die kiesers in geheel wegdoen met die ANC-regering en hom vervang met ‘n regering waarvan ‘n verantwoordelik party soos die VF Plus deel van sal wees," sê van Staden.