fbpx
Vryheidsfront Plus

Onafhanklike kandidate: Verandering aan kiesstelsel kan ANC bevoordeel

"Die uitspraak van die Grondwethof dat onafhanklike kandidate hulself verkiesbaar kan stel vir verkiesings op provinsiale- en nasionale vlak, moet met omsigtigheid benader word. ‘n Verandering aan die huidige kiesstelsel kan van so ‘n aard wees dat dit die ANC kan bevoordeel en meer setels aan hom in die parlement besorg," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Daar bestaan ‘n wanindruk dat dit die kiesstelsel is wat verantwoordbaarheid van parlementslede en provinsiale wetgewers moet verseker. Dit is nie die geval nie.

 

"Dit is die betrokke politieke partye wat moet seker maak dat hul verteenwoordigers verantwoordbaar is teenoor die kiesers, net soos ‘n onafhanklike kandidaat wie se eie verantwoordelikheid dit is om verantwoordbaar te wees. Die kiesstelsel kan dit nie doen nie."

 

"Hierdie standpunt word ook vervat in die verslag van wyle dr. Frederik van Zyl Slabbert se verkiesingstaakspan wat destyds veranderinge aan die kiesstelsel ondersoek het.

"Indien daar wel aan die kiesstelsel verander word, moet daar steeds seker gemaak word dat die algemene uitslag op proporsionaliteit gegrond word. Indien die veranderinge dus voorsiening maak vir onafhanklike kandidate, moet dit soortgelyk wees aan die huidige stelsel op plaaslike regeringsvlak.

 

"Dit behels dat onafhanklike kandidate wel kan deelneem, maar dat proporsionaliteit steeds verseker word. Indien daar beweeg word na ‘n kiesafdelingstelsel, sal dit die ANC sterk bevoordeel."

 

"In die Van Zyl Slabbert-verslag is bevind dat sou Suid-Afrika se kiesstelsel oorskakel na ‘n kiesafdeling-kiesstelsel soos voor 1994, dit die ANC feitlik oornag ‘n meerderheid van sowat 80% in die nasionale vergadering kan besorg.

"Dit is baie selde dat onafhanklike kandidate verkies word aangesien dit groot, omvattende en duur infrastruktuur verg om aan ‘n verkiesing deel te neem.

"Onafhanklike kandidate sal daarom oor die geldelike vermoë moet beskik vir uitgawes soos deposito’s en bemarking asook ‘n span ondersteuners om met sy veldtog te help. Eindelik is dit presies dieselfde as ‘n klein en nuwe politieke party wat stemme moet werf om verkies te word," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.