Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ommeswaai van arbeidsminister oor Regstellende Aksie (RA) is verblydend

"Die skielike ommeswaai van die minister van arbeid, Mildred Oliphant, oor die ongrondwetlikheid van Regstellende Aksie (RA) is verblydend, maar sy moet nou wys dat sy ‘n Artikel 9-instelling, in hierdie geval die Menseregtekommissie (MRK), se bevindings respekteer," sê adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter.

Die minister het enkele weke gelede nog ‘n minagtende houding gehad jeens die bevindings van die MRK wat in ‘n verslag bevind het die toepassing van regeringsbeleid rakende RA is ongrondwetlik en die regering moet stappe neem om dit te verander.

"Aangesien die MRK soos die Openbare Beskermer (OB) ‘n Artikel 9-instelling van die Grondwet is wat die steun van die regering in die parlement moet ontvang, het Oliphant met haar optrede ook gewys hoe min waarde sy aan die land se Grondwet heg.

"Drie weke gelede nog het sy gesê die regering “sukkel” met die MRK aangesien die MRK “twyfel saai” oor die grondwetlikheid van die Wet op Billike Indiensneming. Die VF Plus het daarna ‘n beroep op die MRK gedoen om die minister tot orde te roep en luidens berigte het sy nou aan haar departement opdrag gegee om die bevindings van die MRK te bestudeer.

"Die VF Plus vertrou dat die minister die MRK se aanbevelings sal aanvaar en die nodige verstellings sal aanbring om te voldoen aan internasionale voorskrifte rakende RA, veral in bedrywe waar die mikpunt van regstelling reeds bereik is, soos in die staatsdiens.

"Indien die minister nie wil optree nie, sal die VF Plus sorg dat die internasionale gemeenskap kennis neem van die Suid-Afrikaanse regering se verbreking van die Internasionale Verdrag oor die Eliminasie van alle vorme van Rassediskriminasie (CERD).

"Deur nie te gehoor te gee aan die bevindings van die MRK nie sal ook ‘n verbreking van die Grondwet wees.

"Sou die minister tóg besluit om haar tot die hof te wend om die MRK-verslag ter syde te laat stel, moet haar aansoek met alle mag teengestaan word. Die minister moet hierdie eerder as ‘n geleentheid sien om geregtigheid te laat geskied oor almal in Suid-Afrika, en nie net vir die meerderheid wat demografies oorheers nie," sê Alberts.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.