fbpx
Vryheidsfront Plus

OG se ongekwalifiseerde ouditverslag dui op verbetering vir Polokwane, maar dienslewering versleg by die dag

Die ouditeur-generaal (OG) se ouditverslag vir die 2021/22-finansiële jaar vir die Polokwane-plaaslike munisipaliteit (Pietersburg) dui op ‘n verbetering op vorige jare, maar daar kan nie dieselfde gesê word van basiese dienslewering nie.

Dié gaan by die dag agteruit.

Die OG het onder meer bevind dat:

• Redelike stappe nie geneem is om onreëlmatige uitgawes van R718 300 754 te voorkom nie en die meeste onreëlmatige uitgawes kan toegeskryf word aan die oortreding van die munisipale voorsieningsketting-bestuursregulasies. Die onreëlmatige uitgawes is ook deur die munisipaliteit afgeskryf sonder om ondersoek in te stel of dit verhaal kan word en of iemand daarvoor aanspreeklik gehou kan word.

• Skuldeisers is nie altyd binne 30 dae betaal nie;

• Waterverliese beloop R86 994 953 wat 34% van die totale gekoopte water verteenwoordig.

• Die twaalf sleutelaanwysers wat gebruik word om Polokwane se dienslewering te beoordeel dui daarop dat slegs 36% van die doelwitte bereik is. Dit is ‘n druippunt wat dienslewering aanbetref.

• Die voorwaardelike toekennings van nasionale tesourie was R152 145 962 waarvan slegs R16 147 359 bestee is. R135 998 603 moet dus aan nasionale tesourie terugbetaal word en is verlore vir munisipale kapitaalprojekte.

Die VF Plus sal aanhou druk toepas dat die munisipaliteit ‘n beleid oor voorsieningskettingbestuur moet instel om effektiewe verkrygingsbestuur te verseker en om te sorg dat goedere en dienste slegs volgens gemagtigde prosesse verkry word.

Die waterverliese kan deels toegeskryf word aan die kultuur van nie-betaling wat die ANC gevestig het, onwettige koppelings, vervalle infrastruktuur en die munisipaliteit se laksheid om waterlekkasies te herstel.

Dit is ook te betwyfel of die waterverliese akkuraat bereken is siende daar geen kundiges by die munisipaliteit is wat weet presies waar die waterpype in Polokwane se waterstelsel geleë is nie, talle watermeters al vir etlike jare buite werking is en waterlesings dus nie akkuraat geneem kan word nie.

Onder ANC-beheer het Polokwane verval en is sy inwoners uitgelewer aan gebrekkige infrastruktuur en dienslewering wat by die dag agteruitgaan.

Polokwane verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.