‘n Voortslepende arbeidsdispuut oor oortydbetaling het tot gevolg dat noodsaaklike dienste weereens onderbreek is deur stakende werknemers wat glo werksaam is by die tegniese afdeling van die JB Marks-munisipaliteit.
Die VF Plus het sedert 8 April 2020 herhaaldelik vrae gerig oor die prosesse wat gevolg is om hierdie dispuut te besleg. Enige onderbreking van noodsaaklike dienste deur arbeidsoptrede is totaal onaanvaarbaar, in besonder tydens die inperkingsperiode waar die gemeenskap reeds verskeie uitdagings moet trotseer.
Die VF Plus het daarop aangedring dat gepaste arbeidsregtelike stappe teen die verantwoordelike werknemers geneem word. Die VF Plus het ook versoek dat die munisipale bestuur bekend met maak watter stappe geneem word om te verseker dat noodsaaklike dienste aan al die gemeenskappe in die munisipaliteit gelewer word.
Daar is oor die afgelope naweek verskeie probleme ervaar deur veral die landelike gemeenskap van Ventersdorp waar kragonderbrekings ervaar is op verskeie lyne.
Die meeste van die plase in die distrik is afhanklik van elektrisiteit om water te voorsien, nie net vir landboubedrywighede nie, maar ook aan die werknemers en hul gesinne wat op die plase woon. Navrae van die VF Plus het bevestig dat elektrisiëns weier om aandag te gee aan die probleme weens die voortslepende dispuut.
Die VF Plus het dit benadruk dat die verskaffing van noodsaaklike dienste geprioritiseer is gedurende die inperking ingevolge die Wet op Rampbestuur, Wet 57 van 2002. Werknemers wat hierdie noodsaaklike diens verskaf, mag dus nie aan onbeskermde stakings deelneem nie en enige dispuut oor oortydbetaling moet verwys word in terme van die nodige prosedure oor dispuutbeslegging.
Dit is onaanvaarbaar dat die bestuur van die munisipaliteit nie die voortslepende arbeidskwessies aanspreek en oplos nie. Dit is verder onaanvaarbaar dat daar sodoende inbreuk gemaak word op ‘n gemeenskap se basiese grondwetlike regte en dat werknemers toegelaat word om ‘n gemeenskap gyselaar te hou deur die weerhouding van dienste in hierdie omstandighede.
Die VF Plus het reeds die aangeleentheid verwys na die provinsiale wetgewer, sowel as na die nasionale raad van provinsies. Die VF Plus sal aanhou veg vir die regte van die gemeenskap, nou meer as ooit, in hierdie moeilike tyd.
Kontaknommers: 083 292 1157 / 072 298 0295