Wysigings aan die Openbare Ouditwet wat daarvoor voorsiening maak dat die Ouditeur-Generaal (OG) self amptenare wat hulle aan finansiële misdrywe skuldig maak kan aankla by die vervolgingsgesag, is noodsaaklik omdat die nodige politieke wil by die ANC ontbreek om self op te tree.
"Dit is nie ‘n oorwinning vir die regerende party soos die ANC-hoofsweep, Jackson Mthembu, gister in die parlement voorgegee het nie, maar eerder ‘n aanduiding dat strukture onder ANC-beheer onbevoeg is om te regeer," sê Wouter Wessels, VF Plus parlementêre woordvoerder vir Finansies.
Die wysigings bepaal dat die OG nou self oortreders sal kan aankla wat vir die onreëlmatige en misdadige vermorsing van openbare geld verantwoordelik is.
"Hierdie optrede is ingevolge bestaande wetgewing, soos ondermeer artikel 32 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) die plig van die regerende party. Sy onvermoë om dit te doen het nou veroorsaak dat die OG onnodig hiermee opgesaal gaan word.
"Ingevolge dié artikel is dit die verantwoordelikheid van rekenpligtige amptenare van munisipaliteite om onreëlmatige uitgawes wat moontlik misdadig is, sowel as enige ander vorm van diefstal of bedrog, by die polisie aan te meld. Die wetgewing bepaal ook dat waar die rekenpligtige amptenaar sy plig versuim of self skuldig is aan misdrywe, dit die plig van die munisipale raad is om hierdie klagtes aanhangig te maak.
"ANC-beheerde munisipaliteite voldoen nie aan hierdie wetlike voorskrifte nie, ten spyte van die VF Plus se herhaaldelike versoeke om wel hul wetlike verpligting in dié verband uit te voer.
Die wysigings aan die Openbare Ouditwet, wat die werksaamhede van die OG bepaal, is dus nie ‘n oorwinning vir die ANC nie, maar is nodig om amptenare en politici wat hul skaamteloos aan belastingbetalers se geld vergryp sonder enige werklike gevolge hok te slaan en die VF Plus verwelkom dit," sê Wessels