fbpx
Vryheidsfront Plus

Nersa se voorgestelde tariefstruktuur: Tariewe wat tyd van gebruik weerspieël is ‘n beter oplossing

'n Dokument waarin die energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) 'n nuwe grondslag vir die berekening van kragtariewe voorstel, sal verbruikers met eie opwekking baie duur vir hul krag laat betaal.

Hoewel Nersa se voorstel goed beredeneerd is, kan dit beter wees om slimmeters te gebruik om opwekkingskoste in tariewe te weerspieël.

In die dokument stel Nersa dat koste, sowel as tariewe, behoorlik ontleed en uitmekaar gehaal moet word. So moet die koste van elke opwekkingseenheid (selfs tussen verskillende steenkoolkragsentrales) bereken word. Dit sal verseker dat opwekking teen 'n verlies nie versteek word nie.

Die groot probleem is huishoudings se wisselende patroon van kragverbruik. Dit beteken dat daar in die oggend voor werk en vroegaand na werk groot pieke in verbruik voorkom.

Stabiele verbruik wat regdeur die dag gehandhaaf word, veral deur verbruikers in die handel en nywerheid, word die basislading genoem. Dit is redelik voorspelbaar en kan deur steenkool- en kernkragsentrales teen redelike koste gelewer word.

Die pieke skep 'n probleem. Die oplossing is óf dat voorsiening regdeur die dag op die pieke gegrond word wat beteken dat baie krag buite piektye verlore gaan, of dat spesiale opwekkers in piektye in werking gestel moet word.

In Suid-Afrika is dit tans oopsiklus-gasopwekkers wat elke krageenheid aansienlik duurder as die basislading opwek.

Die argument is dat verbruikers wat krag met hul eie sonpanele opwek, die basislading verlaag omdat hulle daardie krag self opwek.

Tydens piektye wek hulle egter min of geen krag op nie en die pieke bly dus ewe hoog. Daarmee dwing hulle ander verbruikers om vir die duurder opwekking te betaal.

Nersa stel dus voor dat hierdie produsent-verbruikers 'n tarief van 5 tot 10 maal hoër as nywerhede betaal.

Die beredenering van Nersa neem nie in ag dat produsent-verbruikers ook winkelsentrums, skole en ander instellings kan insluit, wat nié tot piekverbruik bydra nie. Dit ignoreer ook dat sulke verbruikers in die weste van die land wel tot kragvoorsiening in die vroegaand kan bydra, terwyl diegene in die ooste in die oggend kan bydra.

Verder veronderstel dit dat elke individuele verbruiker die verwagte verbruikprofiel handhaaf en slaan hulle daarvoor aan.

Die oplossing is veel eerder om te vereis dat alle produsent-verbruikers slimmeters het wat aandui hoeveel krag op verskillende tye gebruik word. Dit kan verbruikers aanmoedig om batterybystand te installeer wat hulle piekverbruik verlaag, sonder dat hulle heeltemal die netwerk hoef te verlaat.

Die gevolg van Nersa se voorstel sal wees dat verbruikers wat dit kan bekostig, die netwerk heeltemal sal verlaat, wat die stelsel sonder hul betaling, maar ook sonder hul potensiële bydra tot kragopwekking sal laat. Beide hierdie gevolge moet vermy word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.