Dit is nie aanvaarbaar dat die Afrikaner se aandeel in Suid-Afrika se geskiedenis gerelegeer moet word tot iets wat in hul eie land agter slot en grendel beskerm moet word nie, is die eenparige besluit wat die VF Plus se hoogste gesagsliggaam, die Federale Raad, Saterdag (18 April) oor die kwessie geneem het.
Dr. Pieter Mulder (leier) en dr. Pieter Groenewald (voorsitter van die VF Plus) sê dit is duidelik dat die aandeel wat minderhede soos die Afrikaner gehad het in die opbou van die land en sy daaglikse voortbestaan goed genoeg is, maar dat sy erfenis en kultuur nie welkom is nie.
Die mosie hieroor wat eenparig aanvaar is, lui onder meer dat kennis geneem moet word van die feit dat skendings van kultuur-historiese gedenkwaardighede oor kulturele- politieke- en godsdienstige-grense van die verlede strek.
Dit sluit in Cecil John Rhodes, Mahatma Ghandi, Dick King, Louis Botha, Jan Smuts, Jan en Maria van Riebeeck, Paul Kruger, Andrew Murray en selfs ‘n beeld ter ere van perde wat in die Anglo-Boere-oorlog diens gedoen het.
Die VF Plus het ‘n beroep op alle owerheidsinstansies gedoen om streng op te tree teen persone wat enige gedenkwaardigheid beskadig en om voorsorg te tref dat dit nie gebeur nie.
Klem is gelê op die aanhef tot die land se Grondwet wat bepaal dat respek betoon word teenoor almal wat hard gewerk het om die land op te bou en te ontwikkel en dat die land behoort aan al sy inwoners.
“Die VF Plus ondersteun eweneens ook die verwysig in die aanhef dat erkenning verleen word aan onregte van die verlede en dat eer betoon word aan almal wat gely het vir geregtigheid en vryheid. Dit is duidelik dat die Grondwet geen bevolkingsgroep bo ‘n ander stel nie.
“Die VF Plus eis daarom die reg van minderhede soos die Afrikaner op om hul internasionaal aanvaarde selfbeskikkings- en minderheids-regte uit te oefen deur self te besluit oor hul kultuurhistoriese geskiedkundige geestesgoedere soos monumente, standbeelde en gedenkplate.
“Ons verwerp voorstelle dat enige hiervan na ‘n ‘Boere-Jurassic Park’ gerelegeer word en sal voorstelle vir die byvoeging van gedenktekens op meriete ondersteun vir diegene wie in die verlede misken is sonder om die geskiedenis oneer aan te doen,” sê drs. Mulder en Groenewald.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 083 627 4397