Na aanleiding van ʼn hofdokument in die VF Plus se besit, is een van die party se eerste take hierdie jaar om vas te stel hoeveel belastinggeld Mosselbaai se plaaslike munisipaliteit vermors het met ‘n doellose hofsaak en of daar opgetree gaan word teen die amptenare wat die hofsaak goedgekeur het.
Luidens die hofdokument het die Wes-Kaapse hooggeregshof ʼn bestraffende kostebevel teen die Mosselbaai-munisipaliteit uitgereik wat belastingbetalers gewis miljoene uit die sak gaan jaag.
Die hofsaak het betrekking op ‘n tender vir die oprigting van drie middelinkomste behuisingsprojekte wat Mosselbaai in 2009 aan Stone Trade Trust Construction (STTC) toegeken het, maar na ʼn arbitrasieproses verdeel het tussen STTC en die naaswenner Asla Devco (Pty) ltd.
Weens die munisipaliteit se gesloer met die beskikbaarstelling van grond vir die behuisingsprojekte het STTC in 2011 Mosselbaai gedagvaar vir R64 miljoen vir ʼn verlies aan inkomste.
Mosselbaai het ʼn teenaansoek gebring om die oorspronklike tendertoekenning tersyde te stel weens sy mening dat ná die verloop van 15 jaar, die tender aan die verkeerde kontrakteur toegeken is.
Die regter het die hersiening van die hand gewys en bevind dat die oorspronklike proses regverdig, deursigtig, billik en koste-effektief was en dat die munisipaliteit gefaal het om die teenoorgestelde te bewys.
Mosselbaai is ook beveel om die applikante se hofonkoste te betaal.
Die VF Plus beskou hierdie hofsaak as ʼn blatante vermorsing van belastingbetalersgeld.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het met hierdie hofsaak bewys dat hy nie in die beste belang van sy inwoners opgetree het nie.
Die VF Plus sal vrae oor die aangeleentheid rig aan die munisipale bestuurder, Colin Puren en burgemeester, Dirk Kotze, om vas te stel hoeveel die hofsaak die munisipaliteit uit die sak gejaag het en of daar opgetree gaan word teen enige amptenare.