Die VF Plus is bly dat die sogenaamde vermiste middelgroep- studente uit huishoudings wat te veel verdien om vir NSFAS-beurse te kwalifiseer maar te min om banklenings te kry, die nodige aandag kry.
Volgens ‘n aankondiging deur die minister vir hoër onderwys, wetenskap en innovasie, dr. Blade Nzimande, kan hierdie studente voortaan vir lenings kwalifiseer, wat ook deur NSFAS geadministreer sal word.
Die huishoudelike inkomste ter sprake is tussen R350 000 en R600 000 per jaar.
Die warboel in NSFAS is die afgelope weke druk bespreek. Al waarop die VF Plus tans in dié verband wil reageer, is die tydelike aanstelling van prof. Lourens van Staden as voorsitter van die raad. Dit is nadat die sittende voorsitter, mnr. Ernest Khosa, vrywillig teruggetree het sodat korrupsiebewerings teen hom ondersoek kan word.
Prof. van Staden is ‘n deurwinterde akademiese administrateur, wat naas sy voormalige pos as rektor van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) ook meer as een universiteit geadministreer het.
Die VF Plus beskou sy aanstelling in ‘n uiters positiewe lig.
Wat die studentelenings aanbetref, sê Nzimande dat hierdie deel van ‘n omvattende finansieringskema is waaraan sy departement werk. Die VF Plus hoop van harte dat vereistes vir die verskillende groepe studente in ooreenstemming met mekaar gebring word.
Beurshouers uit die geledere van “armes en die werkersklas”, soos NSFAS gewoonlik na hulle verwys, hoef niks terug te betaal nie – ongeag hul vergoedingsvlak nadat studies voltooi is. Hulle het ook twee ekstra jare waartydens hulle ten volle befonds word om ‘n kwalifikasie te voltooi.
In teenstelling hiermee moet “vermiste middel”-studente hul lenings terugbetaal en ten minste 60% gemiddeld behaal om die lening in die opvolgende jaar te herhaal.
Volgens die VF Plus moet alle studente op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se databasis opgeneem word, sodra hulle finansiële steun van NSFAS ontvang.
Wanneer hulle ‘n inkomste begin verdien, moet hulle lenings terugbetaal word, volgens ‘n rentekoers wat met hulle vergoeding verband hou.
Nog ‘n probleem waarna die minister verwys het, is die finansiering van nagraadse studie. In die universiteitsomgewing word ‘n nagraadse kwalifikasies deur verskeie professionele verenigings vereis, voor die betrokke professie betree kan word.
Beurse vir nagraadse studie is skaars. Die Nasionale Navorsingstigting (NRF) wat dit tans hanteer, is hopeloos te onderbefonds om aan hierdie behoefte te voldoen.
As alle studentefinansiering terugbetaalbaar is, kan die minister se “samehangende oplossing vir studentefinansiering” gouer bereik word en ook volhoubaar wees.