Die ANC-beheerde Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein) gaan voort met die aanstelling van 29 personeellede in die kantore van die burgemeester, speaker en die hoofsweep.
Die VF Plus het deurentyd teen die beoogde aanstellings gestry.
Die speaker van die raad, me. Stella Mandlane, het raadslede gister hieroor ingelig.
Hierdie aanstellings in nuutgeskepte poste sluit adjunkdirekteure, assistent-direkteure, skakelbeamptes, administratiewe personeel en vier persoonlike lyfwagte vir die burgemeester, mnr. James Tsolela, in.
Geen regverdiging vir die skepping van die meestal vaagomskryfde poste is gegee nie. Die aanstel van só ʼn kontingent persoonlike lyfwagte vir Tsolela val ook vreemd op.
Mandlane het dit verder gestel dat daar aansoek gedoen sal word vir ʼn verdere uitstel vir die permanente aanstelling van direkteure in die munisipaliteit, ten spyte van die feit dat die wetlik voorgeskrewe tydperk vir die vul van hierdie kritieke poste reeds verloop het.
Die VF Plus het van meet af sterk kapsie gemaak teen hierdie skynbaar politieke aanstellings. Die party het daarop aangedring dat die vul van die vakante direkteursposte in die munisipaliteit voorrang geniet.
Dit is ʼn skande dat dienslewering vir hierdie ANC-leidsliede skynbaar geen prioriteit is nie.
Hierdie stand van sake belig ook weereens die feit dat die ANC nie skroom om munisipale fondse in hierdie reeds bankrot munisipaliteit, te misbruik vir blatante kaderontplooiing om die party se belange te dien nie.
Dit is belangrik dat die kiesers in Matlosana kennis neem van hierdie ANC-vergrype, en meehelp om met hul stemme in die komende verkiesing te verseker dat die ANC in Noordwes vervang word met ʼn etiese koalisieregering waarvan die VF Plus deel vorm.